facebooklogotwittericonnewslettericon
Besige bytjies = water vir ’n seksdroogte!
kinders

Jy het ’n kroos wat bestaan uit drie woelwaters. Geen maniér hoe jy dié drie op ’n Sondagmiddag gelyk aan die slaap kan kry nie (jy kry nie eers enetjie platgetrek nie!). Om hulle iewers af te laai, is buite die kwessie, so hoe maak jy?

“Mammaaaaaaa . . .” hoor jy die oomblik wat jy manlief se Jockey met jou tande verwyder het. Jy en manlief skreeu-vra woordeloos: “Kan een paartjie waarlik sóveel bad luck hê?” Toe Boetie gaan slaap (iets wat nóóit meer gebeur nie), het julle mekaar ná ’n lang slaapkamerdroogte een kyk gegee. Sussie het gelê en Ice Age kyk – dit was heel in die begin waar die eekhorinkie agter die akkertjie aanhol – en jy het geweet: Híér is julle kans – maar helaas . . . die voetjies trippel nader en die deurknop word gedraai. “Hoekom is julle deur gesluit?” kom daardie kerm-stemmetjie wat die laaste druppel sekslus blus. Jy pluk gou weer die sweetpaktop oor jou kop terwyl manlief asem skep en gooi vir Sussie rooi koeldrank in. Gaan jy ooit weer seks hê?

Jy gaan. Oor so 16 jaar. Maar gouer as jy plannetjies beraam. Hier is ’n paar idees oor hoe jy jou spruite kan besig hou as jy en jou man desperaat is vir ’n bietjie alleentyd!

“Ryg gou ’n armband of tien”
Gee hulle ’n kreatiewe projek. Leer jou laerskoolkinders om te brei, hekel, tolletjiebrei of krale te ryg. Hul konsentrasiespan is nou lank genoeg om die projek te voltooi en ’n mens kry allerhande oulike stelletjies wat spesifiek vir hulle ontwerp word sodat hulle hulself nie sal seermaak nie. Dit is immers ’n lekker vaardigheid om te leer en een wat hulle vir ewig gaan kan benut. As jy en manlief kans sien vir ’n quickie, behoort hulle ywerig besig te wees met hul projek tot dit klaar is (en julle ook!). Vir ’n uitgerekte bedpretsessie, spoor hulle aan om solank Kersgeskenke vir altwee oumas én altwee tannies te maak!

“Bak vir ons ’n chocolate koek”
Maak vir jou peuters klei en laat hulle “koek bak” met die klei. Dit is altyd ’n wenner! Doen ’n bietjie ekstra moeite deur dit met verskillende kleure koekkleursel te kleur en kry allerhande kombuisgereedskap wat hulle besig sal hou soos tandestokkies, stomp messe, lepels, jou koekroller en koekiedrukkers. So ook kolwyntjiepanne, plastiekbakkies, maatlepels, sjokoladesprinkels en bakplate. Keer ’n ou boks om en teken “stoofplate” bo-op. Hulle sal met al hulle “kombuistoebehore” wil eksperimenteer – meer tyd vir julle.

“Gaan was julle driewiele!”
Parkeer jou kleuters se driewiele en skopfietsies buite en stop elkeen ’n spons en ’n botteltjie seep in die hand. Vir ekstra pret, gee sommer ’n botteltjie blaasborrels saam. As daar ’n waterskaarste is, gee hulle ’n emmer water. As hulle nog baie klein is en nog nie waterveilig nie (onthou, kleintjies kan in ’n emmer water verdrink!), gee hulle ’n tuinslang. Sê vir hulle as jy buite kom, wil jy nie ’n vuil kolletjie op die fietse sien nie. Soortgelyke “opdragte” kan insluit om hul kamers op te ruim – in die proses ontdek hulle ou speelgoed wat skielik soos nuwes speel – en om ’n wasgoedmandjie volgens kleur te sorteer. Nee, dis nie kinderslawerny nie, dis huweliksterapie!

“Skryf saam ’n lawwe storie”
As jy meer as twee laerskoolkinders het, vertel hulle hoe om kettingstories te skryf. Hulle moet hul verbeelding gebruik en lekker maltrap skryf met sinne soos: “Eendag was daar ’n geel kat met ’n skaatsplank en studs in sy ore wat daarvan gehou het om na Beyoncé te luister.” Elkeen skryf ’n paragraaf (gee hulle ’n riglyn oor hoe lank die paragraaf moet wees, afhangende van hoeveel tyd jy en manlief nodig het). Die een moet ’n beginparagraaf skryf en een van die ander moet ’n slotparagraaf skryf. Daarna sit hulle die stories aanmekaar en lees dit as een storie. Die uiteinde is vreeslik snaaks en die kans is goed dat hulle nie net by een kettingstorie gaan bly nie, so julle het ’n bietjie ekstra tyd . . .

“Maak vir ons ’n blomtuin”
Koop vir hulle saadjies en pluk steggies van plantjies af. Gee vir hulle ’n gieter, tuinslang, grafie, emmertjie en klein plastiekpotjies. Wys hulle hoe om dit te doen en gee hulle dan opdrag om die saadjies in een hoek van die tuin te plant en ’n steggie in elkeen van die plastiekpotjies. Vertel hulle dat hulle dit mooi moet natlei en die grond styf moet vasdruk. Hulle sal hulself só geniet met die modder en die water dat die tuinmaak gou in ander speletjies sal ontaard!

“Iewers is daar ’n skat vir jou”
Maak vir jou laerskoolkinders ’n skattejag. Goed, dit gaan ’n bietjie moeite verg, maar jy’s desperaat, onthou! Stuur hulle tuin toe en laat hulle soek vir items soos ’n haarrekkie, ’n ou muntstuk, ’n gogga en ’n wit klippie – alles weggesteek saam met die volgende leidraad. En hul laaste vonds – ’n nuwe storieboek, toegedraai in plastiek, wat iewers begrawe is. Hulle sal moet grawe (ekstra tyd) en as hulle die storieboek gekry het, gaan hulle dit wil lees (bonus!).

“Jy hou mos van wurms . . .”
Leer jou kleuters/laerskoolkinders om ’n wurmfabriek te maak. Kry ’n ou roomyshouer en maak gate in die deksel. Los hulle om die res te doen. Eers moet hulle lekker, klam goeie grond kry en die roomysbak daarmee vul. Daarna moet hulle gaan jag vir erdwurms (as julle kans sien vir ’n quickie, gee hulle dié aktiwiteit om te doen, kort na die reën. As julle langer tyd nodig het, stuur die kinders uit na ’n lang droogte). Sodra hulle so vyf wurms gekry het, kan hulle die wurms aan hul nuwe huis voorstel. Nou kan hulle hul wurms begin voer – groenteskille en eierdoppe werk goed. En die wurms maak kompos wat goed is vir jou tuin.

“Maak vir my ’n meesterstuk”
Maak vir jou kinders ’n kunsboks met allerlei opwindende goed wat hulle kan gebruik om ’n meesterstuk te skep en maak die opdrag spesifiek, soos byvoorbeeld: Maak vir my ’n prentjie van Gouelokkies en die drie beertjies. Die kunsboks moet die volgende items bevat: Kryte, penne, potlode, papier, gekleurde karton, gom, skêrtjie, ou tydskrifte, blinkers, lint en stempels (los verf eerder hier uit!). Gee die boks vir hulle direk voor julle van plan is om jul eie slaapkamermeesterstuk te skep en siedaar!

“Julle mág maar . . .”
Gee hulle toestemming om ’n fort te bou (niemand het gesê dit gaan sonder opofferings wees nie!). Die eetkamertafel kan as basis dien en nou mag hulle al jou sitkamerbanke se kussings en ’n hoop komberse (wat jy vir hulle eenkant los) gebruik om hul eie hawe te bou. Julle orgasme sal die opruim ná die tyd die moeite werd maak . . .

“Ken julle vir Storieman?”
Sit vir jou kinders ’n oudiostorie op. Onthou jy die dae van radiostories? Toe televisie nie daar was nie, was dit soveel pret om die prentjie self in jou geestesoog in te kleur. Gaan grawe in jou ma se sentimentele kis vir al jou ou storiekassette. Jy kry vandag ook CD’s met stories daarop. Maak vir hulle ’n krismisbed in die sitkamer en skakel die CD-speler aan. Met vandag se tegnologie is só iets vir hulle ’n nuutjie!

En ’n laaste wenk vir ouers: Daar is geen beter belegging as ’n nanny-on-speed-dial nie!

Addisionele bronne: 501 TV-Free activities for Kids, deur Di Hodges (uitgegee deur Hinkler Books Pty); ivillage.com; goodtoknow.co.uk

 

Add comment


Security code
Refresh