facebooklogotwittericonnewslettericon
Frankryk

Franse plattelandse brood, Vichy Wortels en Bittersoet Sjokolade-Souffle...

 

Franse plattelandse brood

As julle twee nie lus voel om brood te bak nie, koop sommer ’n Franse broodjie.
Die beste van ’n varsgebakte brood is as jy ’n stuk van die brood afbreek en die korsie en krummels skiet oral heen, net soos ’n glas wat breek.
Enige vrese om brood te bak sal jy vinnig oorkom met hierdie resep.

Bestanddele:

  • 15ml Suiker
  • 25ml Sout
  • 15ml Olyfolie
  • 1 Pakkie kitsgis
  • 1 500ml Koekmeel
  • 750ml Water
  • 125ml Ekstra koekmeel

Só maak mens:

  1. Vroulief, meng die koekmeel, sout, suiker, olyfolie en kitsgis, behalwe die ekstra koekmeel, in ’n groot mengbak.
  2. Manlief, neem die houtlepel en terwyl vroulief al die water by die meelmengsel gooi, meng jy verwoedelik totdat daar niks meer meel sigbaar is nie. As jou deeg te klam is, voeg van die ekstra meel by en meng nog.
  3. Vroulief, bedek die mengbak met kleefplastiek en laat staan om te rys vir ten minste 30 minute of tot jy kan sien die deeg begin rys.
  4. Manlief, strooi nou ’n bietjie meel op jou hande en deel die deeg in drie ewe groot stukke. Maak ’n bolletjie uit die deeg deur met jou handpalms deur die deeg te trek na ondertoe en beweeg die deeg in die rondte soos jy dit doen. Moenie worry as dit nie perfek is nie, hoe meer rustic hoe beter.
  5. Plaas die brode op ’n bakplaat wat met meel bestrooi is en laat hulle staan om te rys vir 30-40 minute of tot dit amper dubbel in grootte is.
  6. Vroulief, skakel die oond aan en voorverhit tot 220°C.
  7. Terwyl die oond verhit, plaas ’n rooster of diep pan half gevul met water op die onderste rak van jou oond. (Dit gaan stoom maak terwyl die brood bak en seker maak dat jy ’n krakerige harde korsie het.
  8. Plaas die bakplaat met jou mooi gerysde brode op die middelste rak van die oond. Maak die deur vinnig toe sodat die stoom nie ontsnap nie.
  9. Bak vir 20-30 minute tot die brode goudbruin is. Laat effens afkoel, maar as jy enigsins soos ek is, gryp die botterbakkie en smeer onmiddellik ’n snytjie dik met botter terwyl dit nog heerlik warm is.

Vichy Wortels

Bedien twee tot vier mense.

Bestanddele:

  • 250g Wortels, geskil
  • 1,25ml Sout
  • 3,75ml Suiker
  • 15ml Botter
  • 15ml Vars pietersielie, gekap

Só maak mens:

  1. Vroulief, sny die wortels in dun repies, skyfies of gebruik weer die mandolien en sny langwerpige skywe, soos linte, uit die wortels.
  2. Manlief, bring ’n mediumgrootte kastrol gevul met water tot kookpunt. Gooi die wortels in die kookwater, kook vir 5-8 minute. Wortels moet nie pap gekook word nie, maar heeltemal hulle vorm behou.
  3. Gooi in vergiettes en dreineer al die water, gooi terug in pot, en oor lae hitte roer die botter, suiker, sout en pietersielie in vir ’n minuut.
  4. Verwyder van hitte en bedien onmiddellik.

Bittersoet sjokolade-soufflé

Maak agt klein of vier groot porsies.

Bestanddele:

  • Botter vir smeer
  • 45ml Strooisuiker
  • 80ml Suiker
  • 30ml Koekmeel
  • 160ml Volroom melk
  • 125ml Kakaopoeier
  • 30ml Volroom melk
  • 2 Groot eiergele
  • 5ml Vanielje-ekstrak
  • 4 Groot eierwitte
  • Knippie kremetart
  • 45ml Suiker
  • 75g Donker bitter sjokolade, fyn gekap


Só maak mens:

  1. Vroulief, plaas die oondrak een rak onder die middel en voorverhit die oond tot 190°C terwyl manlief vier groot soufflébakkies met botter smeer. Sprinkel die hele bakkie nou met strooisuiker, maak seker dis tot bo langs die kante van die soufflébakkie.
  2. Vroulief, meng 80ml suiker, meel en sout in ’n klein kastrol, gooi nou ’n klein bietjie melk in die kastrol en meng tot ’n gladde pasta gevorm het, roer nou die res van die melk geleidelik in.
  3. Plaas die kastrol oor matige lae hitte tot dit lyk of borrels vorm aan die kant. Hou nog so ’n rukkie aan tot dit effens verdik, roer aanhoudend, ongeveer nog 2 minute.
  4. Gooi mengsel nou in ’n groot mengbak. Sif die kakaopoeier in en meng ook die ekstra 30ml melk, eiergele en vanielje by, roer tot jy ’n dik, gladde pasta het.
  5. Gebruik ’n elektriese menger en klits die eierwitte en kremetart tot sagtepunt stadium. Klits die laaste 45ml suiker in en klits nou vining tot stywe punte vorm.
  6. Vou ’n ¼ van die eierwitte in die sjokolademengsel in. Vou die res van die eierwitte asook gekapte sjokolade in totdat dit lyk of dit net-net deurgemeng is, moenie oormeng nie.
  7. Manlief, verdeel die deegmengsel tusen die soufflébakkies, plaas op ’n bakplaat. (Die resep kan voor die tyd tot by hierdie stap voorberei word, bedek net met kleefplastiek en plaas in die yskas.)
  8. Bak die soufflés tot dit opgepof oor die rand van die bakkie is, as jy ’n toetspennetjie insteek in die middel moet hy ’n dik laag deeg om hê, ongeveer 12 minute en as jy dit in die yskas gehad het 15 minute.
  9. Maak met ’n eetlepel klein “duikies” bo-op en skep van die lemoenroom daarop. Bedien onmiddellik met nog ’n bietjie gerasperde lemoenskil.