| Suid-Afrika se hoë egskeidingsyfer het INTIEM se besturende redakteur, Liezel van der Merwe, gemotiveer om ’n publikasie te skep wat ’n positiewe verskil in getroude, Christenvroue se lewens maak. INTIEM, wat in 2006 begin is, is ’n tydskrif wat (hoofsaaklik) vroue aanmoedig om hul huwelik bo-aan daardie ellelange to-do-lysie te plaas. Die reaksie van lesers was oorweldigend positief en verbasend genoeg het mans ongelooflike belangstelling getoon.Onlangse INTIEM-statistiek toon dat 86% van hul lesers getroud is, en 72% van die vroulike lesers se mans lees ook INTIEM. Om die mans dus meer touwys te maak oor hoe om ’n ware en sexy huweliksmaat te wees, verskyn INTIEM vir MANS op die keersy (flip side) van INTIEM vir die eerste keer vandeesmaand.Daar word op die man af met die manne gepraat in hul taal – puntsgewys, meer humor en kits feite . . . alles maklik verteerbaar.
Afdelings in INTIEM vir MANS sluit onder meer in:
- MAN TOT MAN – ’n rubriek wat deur geestelike leiers geskryf word oor ’n kwessie wat alle mans raak.
- KYK DIEP – artikels wat gaan oor dieper kwessies wat die meeste mans raak, soos masturbasie, pornografie, affairs, ensovoorts.
- HAAR TAAL - hoofsaaklik gaan dié afdeling oor vroue, dikwels ’n meer sexy artikel oor wat vroue in die slaapkamer wil hê.
- IN KORT - ’n praktiese raadgee artikel vir mans.
INTIEM vir MANS wil die manne inspireer en bemagtig om, saam met hul beter helftes, beter huwelike te bou. Dit vat immers two to tango!
|