facebooklogo  twittericon
'n Groot Fout

article002

“Ons was onlangs ’n klomp vriende by ’n braai en het lekker gekuier. Ek en my vriendin se man het in die gang in mekaar vasgeloop en voor ons ons kon kry, het ons mekaar gesoen. Ons het onmiddellik weer opgehou en albei besef ons het miskien een drankie te veel ingehad. Dit pla my baie. Daar is definitief niks tussen my en my vriendin se man nie, maar wat nou? Moet ek my man vertel dat dit een onbesonne oomblik was? Moet ons die vriendskap verbreek? Of moet ons maak of daar niks gebeur het nie?”


Timothy Kieswetter, Bybel- en seksualiteitskenner, antwoord: Leonie, as jy al my raad aan ander gelees het, sal jy weet dat ek glo in ’n huwelik waar beide die man en vrou 100% alles van mekaar weet en okay is daarmee. Dit is tog die enigste manier om iemand waarlik lief te hê, wanneer jy waarlik die persoon heeltemal ken. So die ideaal waarna jy sal moet strewe, is om vir jou man te vertel. Die rede hoekom ek nie in geheime glo nie, is omdat ek voel dit is soos kanker wat jou van binne opeet. Maar ek moet hier ook noem dat jy jou tydsberekening moet regkry, want die nuus gaan jou man heel waarskynlik  onkant vang. As julle alreeds sterk kommunikasiekanale tussen julle het, gaan voort en vertel hom. As julle nie regtig diep dinge met mekaar deel nie, is dit dalk nie die beste onderwerp om mee te begin nie. Begin om iets uit jou verlede te deel wat hy nog nie van jou weet nie. Wanneer jy en jou maat “kaal” staan voor mekaar deur  oop en eerlik te kommunikeer, is dit belangrik om nie aanvallend of verdedigend te raak nie. As hy kwaad reageer, moenie jouself verdedig of probeer regverdig nie – bly by: “Ek is jammer ek het jou seergemaak.”

Aangaande jou vraag oor die toekoms van die vriendskap: Ek dink nie jy hoef enigiets drasties te doen nie, maar bewaak jou hart en as jy enigsins gevoelens begin ontwikkel vir hom, is dit tyd om drastiese stappe te oorweeg.

Vraag 2: Meer as vriendskaplik . . .“My vriendin se man lê  by my aan. Die dilemma is dat  ons nog altyd goeie vriende was en lekker grappies met mekaar kon maak. Ek kom agter daar steek deesdae iets meer agter die grappies (wat hy byvoorbeeld net sal maak wanneer sy vrou dit nie hoor nie!). Wat maak ek? Vertel ek haar of konfronteer ek hom, of los ek net alles en hoop dit gaan verby en dat hy aan my lyftaal sal lees dat sy gedrag nie aanvaarbaar is nie?” – Lea, Potchefstroom

Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudingskenner, antwoord:

Hierdie is ’n moeilike situasie, maar ongelukkig ook ’n realiteit waarmee mens dikwels gekonfronteer word. Dit is belangrik om so gou as moontlik baie duidelike grense te stel. Moenie dinge net los en hoop dat dit vanself beter gaan word nie. Dit gaan nie, en voor jy jou kom  kry, is jy in ’n moeilike situasie vasgevang. Vertrou jou intuïsie – as jy ongemaklik voel, het jy rede om ongemaklik te voel. Moenie saam grappies maak en “flirt” nie. Sê reguit as iets jou ongemaklik laat voel. Dit is gewoonlik beter om hom te konfronteer en jou grense duidelik te stel. Só kan jy jou vriendskap met jou vriendin en haar man behou. Om bloot jou vriendin in te lig, is gewoonlik gekompliseerd aangesien sy dan in die middel staan en dit eintlik jóú woord teen haar man se woord is. Indien sake egter nie verbeter nie, behoort jy dit te oorweeg om so onemosioneel moontlik jou vriendin in te lig of kontak met haar man so ver as moontlik te vermy.

 

Comments 

 
0 #5 Tracey van Vuuren 2012-05-16 21:59
Jy moet jouself die vraag vrae, "sal ek wil weet as dit my man was, en sal ek by hom wil hoor of by haar?" As ek jy was, en ek moes dit al doen, sou ek eerder met jou man praat. Sulke dinge kom uit, al is dit jare later. Om so iets klein en "onskuldig" net te los, is verkeerd. Wees eerder eerlik en kry jou gewete skoon, jou man sal verstaan ek is seker en sal jou meer respekteer vir jou eerlikheid. Om vir jou vriendin te se sal afhang van hoe volwasse sy is. Die realiteid is dat die vriendskap heeltemal beeindig moet word. Om drank te blameer is nie die waarheid nie, en kan nie ten volle skuld dra nie, ons is almal volwassenes en weet waar ons swakhede is. Ons het almal al hier 'n fout gemaak, wat sal gebeur as net jy en 'n klomp vriendinne gaan kuier en jy vind jouself in dieselfde situasie met 'n vrou en skuld weer die drank? Geniet jou plek as vrou en vra jou man vergifnis. Ek verseker jou jy gaan gelukkiger voel. Jy is 'n spesiale vrou.
Quote
 
 
0 #4 Eldridge 2012-04-28 08:54
Ek is n middeljarige kleurling man.Persoonlik voel ek indien enige vrou haar in so situasie bevind ,dit die maklikstse ding sal wees om die persoon te se dat sy nie hou van die feit dat hy by haar aanle,Die feit dat sy gevlei voel gee n “Body Langauge” ,wat n situasie skep vir sy eie afleiding, Daarvan lei hy af dat sy van dit hou ,
Quote
 
 
0 #3 J du Toit 2012-04-26 14:06
Dit was net n versoeking en versoeking is nie sonde nie! Jy moet net sorg dat jy nie weer in so n situasie beland nie.
Almal van ons word op een of ander manier versoek, maar die Woord verklaar dat saam met die versoeking kom ook die uitkoms. God sal nie toelaat dat jy bokant jou kragte versoek word nie.
Vra vergifnis van God en gaan aan met jou lewe! Dit is n saak tussen jou en God!
Quote
 
 
0 #2 Emelia 2012-02-16 13:24
Ek het presies die selfde gehaad wat met my gebeur het toe vat ek hom eers aan skryf n formele brief aan hom en vra hom om te stop met sy gedrag en dat terwyl ek gevlei voel dit nie aanvaarbaar is nie en dat ek gertoud is en klaar. Hy het steeds voort gevoeter en ek was genoop om sy vrou te se ek het op die korte duur haar vriendskap verloor wat ek begrip voor het want sy het minderwaardig en verneder gevoel. Ek het my man van die begin af als vertel en oop kaarte met hom gespeel en op die manier myself beveilig. Dit is vreeslik sleg en glo my dit eskuleer amper altyd want hy toets sy grense maar net op die oomblik. Die Here verwag meer vir ons. Sterkte daar
Quote
 
 
0 #1 Nico 2012-02-16 09:41
Kyk, dis nie moontlik om meer van Timothy Kieswetter te verskil nie. As jy van plan is om dit weer te laat gebeur, moet jy jou man daarvan vertel. As jy seker is dit sal nie weer gebeur nie, is daar geen rede om jou man daarmee op te saal nie. Dis plein sotheid om jou huwelik vir 'n onbesonne oomblik in gevaar te stel wat dan die hele huwelik kan laat verbrokkel.
Die onbesonne daad lê by jou en dit moet by jou doodloop. As jy reken dit gaan nie by jou doodloop nie, dan is dit 'n ander saak. Jy is net so verantwoordelik om jou huwelik te beskerm as jou man. Om hierdie saak hand en tand te beveg en dit stil te hou is jou plig. Dit mag nooit weer gebeur nie.
Moet nie die bog van Timothy glo nie. Kenners praat nie so nie. Hy's 'n teoretikus wat jou baie smart sal bring.
Fight vir jou huwelik en maak seker jy is reg vir die volgende versoeking. Jy's nou sterker.
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh