facebooklogo  twittericon
Indaba
indaba
Vraag: Ek het 'n groot probleem. Ek is sewe jaar getroud, het twee pragtige kinders en 'n man wat my goed versorg en liefhet, maar ek is verveeld. Ek weet ek klink dalk onvergenoegd en dit bekommer my. Daar moet vinnig 'n bietjie opwinding in my huwelik gebeur, en die probleem is: Ek is moeg daarvoor om verantwoordelikheid te neem hiervoor. Ek wil he my man moet weer my asem wegslaan...

Antwoord: Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog, antwoord:

Dit klink asof julle twee nodig het om baie akkuraat te kommunikeer oor jou probleem. Dink vooraf baie mooi watter boodskap jy wil oordra. Moenie beskuldig of fokus op wat negatief is of wat skort nie. Fokus op wat jy nodig het, wat jou behoeftes is en wat wel positief is in jul huwelik is.

Sê byvoorbeeld: "Ek is baie bly jy is my man, ek hou daarvan dat jy dít doen, ek is baie bly dat jy dát sê, dis vir my lekker wanneer ons saam kan wat-ook-al. Wat dit vir my nog lekkerder sal maak, is as jy die inisiatief sou neem om vir my so een keer per maand 'n erotiese verrassing te organiseer – iets opwindend wat my asem wegslaan en wat vir ons albei ons huwelik meer opwindend maak." In jou woorde. Iets wat dan jou behoefte akkuraat uitdruk.

Dit help nie om net stil te bly en niks te sê oor jou behoeftes nie, maar dit help ook nie om aanvallend en beskuldigend oor te kom nie – dít sal hom net soos 'n mislukkig laat voel.

 
Vraag: Ek weet dit gaan vir sommige mense vanselfsprekend wees en vir ander 'n dom vraag, maar ek en my man is effens verward oor die intieme deel van ons verhouding. Is vry sonde? Vry, bedoelende aan mekaar vat, soen ensomeer . . . en hoe verduidelik ek hierdie dinge aan my dogter?

Antwoord: Timothy Kieswetter, seksualiteits- en bybelkenner antwoord:

Ek sal graag wil hoor wat is jou ensovoorts . . . Die reëls wat die kerk vir ons gestel het rondom ons seksualiteit, was bedoel om ons te beskerm, want verhoudings is dié plek waar ons die seerste kan kry.

Maar ongelukkig het hierdie "reëls" 'n swaar las op baie paartjies kom plaas en worstel hulle met skuldgevoelens soos "Dis sonde", "Dit moet wag tot die troudag", "Dit sal God se hartseer maak", "Dis wellus". Reëls, sonder om die groter konsep te verstaan, gaan jou óf rebels maak daarteen, óf jou gees knak. In dié geval sal seksuele skuld 'n groot gewig rondom jou verhouding wees. So ek gaan nie vir jou sê wat jy mag en nie mag doen nie. Ek gaan vir jou die groter prentjie skilder. Dis jou lewe en jy moet jou eie besluite maak. (Dis in elk geval wat die meeste van ons doen.)

1. Erotiese liefde (Vry, vat, soen ens ensovoorts . . .) is alles deel van die liefde wat God vir die mens gegee het om te geniet. Spreuke 5:18-19: "Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm." En is dit nie so dat erotiese liefde ons almal bedwelm nie? Dis goed dit moet só wees. Geniet dit.

2. Trouheid (Commitment liefde). 'n Mens se seksualiteit word nie aangeskakel eers wanneer jy trou nie. Die fisieke aantrekking begin by die oomblik wanneer julle mekaar se oë vir die eerste keer vang. En soos wat jul verhouding en liefde groei, raak die trouheid (belofte om nie meer seer te maak nie) groter en groter. Erotiese liefde is blind en dink nie voordat hy iets doen nie, daarom moet ons na Spreuke 5:15-16 ook luister: "Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei?"

Ten slotte: Die groot prentjie is dat erotiese liefde en trouheid saam behoort en daarom kan daar nie 'n reël wees wat vir 'n ieder en 'n elk geldig is nie, want nie alle verhoudings het dieselfde belofte van trouheid aan mekaar nie. En om te trou net vir trou (en om die fisieke te geniet) is ook nie die antwoord nie, want dit beteken net dat die kans goed is dat julle 'n paar jaar later skre. Elke paartjie moet besluit wat vir hulle goed en reg is.

 

Comments 

 
0 #3 Roenel Kenyon 2012-02-16 11:44
Die term "trouheid" is vir my so mooi. Hoeveel van ons in die huwelik hou hierby. Om nie meer seer te maak nie. Pragtig en iets om na te streef in alle verhoudings.
Quote
 
 
0 #2 INTIEM admin 2012-01-05 14:25
Hi Elana,

Timothy skryf: "en daarom kan daar nie 'n reël wees wat vir 'n ieder en 'n elk geldig is nie, want nie alle verhoudings het dieselfde belofte van trouheid aan mekaar nie." - maw, daar kan nie 'n vaste stel reels wees wat vir almal geldig is nie, want elke paartjie voel verskillend oor sekere aspekte. :)

Verder skryf hy ook: So ek gaan nie vir jou sê wat jy mag en nie mag doen nie. Ek gaan vir jou die groter prentjie skilder. Dis jou lewe en jy moet jou eie besluite maak.
Quote
 
 
0 #1 Elana 2012-01-05 14:12
Timothy Kieswetter se dat daar nie reels is wanneer dit by moets en moenies kom in die huwelik nie, maar dit maak my deurmekaar - wat dan nou van pornografie? Dit hoort mos GLADNIE in of naby die huwelik nie?? Help my asb??
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh