facebooklogo  twittericon
Prettige penis-jassies!
penisjassies
Dr. Wilmé Steenekamp : Is 'n kondoom vir jou 'n absolute passieblusser? Goed waaroor jou kleinboet destyds in die apteek bloedrooi gebloos het toe jou ma vir hom aknee-room gaan koop en jy gevra het: "Wat's dié goed?" Lees dan 'n bietjie hier . . .
Een van mý eerste kennismakings met die gesogde "penis-jassies" was êrens in die laat negentiger jare. Die wonderlikste kondome was te koop aangebied by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Jong manne met groot glimlagte en blink oë het rondgeloop met babastootwaentjies propvol Afrikaanse kondome te koop op dié Afrikaanse fees – baie gepas!

Daar was 'n paar verskillende soorte wat deur die maatskappy "Afrikaners is plesierig" bemark is: "Klopdisselboom" (alles loop reg – nogal!); "Piet Pompies", "Bobbejaan klim die berg"' en "Grootmeneer". Agter op elke pakkie het daar interessante aanwysings gestaan: "Gebruik beslis net een keer'"; Grootte: "49 mm, seepgladde tekstuur"; Vervaldatum: "Die jaar 2000, of wanneer die lus bedaar". "Bêre onder die bed of in 'n droë plek, buite bereik van moeders, susters en irriterende klein boeties". "Indien reg gebruik, sal latex-kondome die risiko van vigs, seksueel oordraagbaregoggas en ander ongewenste passasiers voorkom".

Ek het nogal gewonder hoeveel van die feesgangers die kondome gekoop het omdat dit hul lojaliteit en lekkerkry oor Afrikaans ondersteun het, hoeveel geprikkel is deur die humor van die konsep (ook eg Afrikaans) en hoeveel regtig net enige kondoom nodig gehad het om as 'n jassie aan te trek vir seks.

'n Ander herinnering is dié van baie ongelukkige kliënte wat moes aanhoor dat die vrou (alweer!) swanger is. Hulle hét dan kondome gebruik – dit was wel te groot en hulle moes die puntjie daarvan afsny om te pas!

Nog 'n prettige herinnering wat ek het, is dié van 'n kondoom-advertensie: 'n Pragtige vrou sit by 'n koffietafel en ontbyt eet. 'n Vlytige by vlieg by haar verby, draai om en kom sit op haar lippe. Sy glimlag, kry 'n vreeslik blink in haar oë en lek dan haar lippe stadig af. Sy word duidelik herinner aan 'n heerlike herinnering en aan dit wat sy die vorige aand met dieselfde lippe gedoen het. Die boodskap was: Gebruik ons gegeurde kondome – heerlike, natuur-egte smaak wat die bye nader trek vir nektar en jou in 'n godin omtower.

Binne-in dié prentjies lê die wonder van kondome verseël: Die kondoom beteken vir elkeen iets anders. Dis funksioneel, soms essensieel, soms snaaks en prettig, sensueel, soms die enigste uitweg, soms 'n uitnodiging – die lysie kan nogal groei.

Die term kondoom laat ons gewoonlik eerste dink aan die langwerpige, koddige ballonnetjie met die leë hoedjie vooraan wat oor 'n man se penis getrek word. Dit vorm 'n skans tussen die verskillende geslagsorgane en voorkom ook dat die man se semen net losgelaat kan word in die vrou se vagina, omdat dit eers opgevang word in die puntjie van die kondoom. Dit keer dus dat die twee partye liggaamsvloeistowwe uitruil tydens penetrasie – ook dat die vloeistof wat deur die vrou se vaginale uitvoering en baarmoedermond gevorm word in kontak kom met die man se penis. Sommige organismes wat seksueel oordraagbare siektes veroorsaak kom in die liggaamsvloeistowwe van mans en vrouens voor – kondome keer dus ook dat dié siektes tydens penetrasie oorgedra word. Dit skep ook 'n veiliger omgewing vir orale seks omdat organismes wat deur middel van sputum (spoeg) oorgedra word, uitgehou word.

'n Mens kry ook 'n vaginale kondome vir vrouens wat silindries is met 'n toe kant wat diep binne in die vagina kom en 'n oop kant waardeur die man kan penetreer.

Waarvan word kondome gemaak?

Kondome word gewoonlik gemaak van latex ('n tipe rubber), poli-uretaan of polyisoprene, (plastiektipes) of skaapderm (nie doeltreffend vir die voorkoming van seksueel oordraagbare siektes nie). Eersgenoemde is algemeen beskikbaar en word as effens sterker beskou (belangrik as jy dit vir voorkoming gebruik). Sommige mense is egter allergies vir latex – in welke gevalle die ander tipes gebruik moet word.

Belangrike feite vir voorbehoeding

  • Kondome is 'n wonderlike opsie omdat dit die enigste voorbehoedingsmetode is wat geen ander hormonale effekte of ingreep vereis nie – dis net 'n skans/vang semen op voordat dit die vrou kan swanger maak.
  • Jy moet geoefen wees met 'n kondoom om dit doeltreffend te kan gebruik! Mense met min ervaring het nie 'n kondoom byderhand in die oomblik van passie nie; sukkel om die kondoom aan te sit, gee dan op en gaan voort daarsonder; laat die kondoom afglip en stort dan semen in die vrou se vagina,; het emosionele bagasie oor die gebruik van kondome ("hy is nie regtig lief vir my nie"/"sy dink ek het 'n seksueel oordraagbare siekte"); gooi tou op omdat die man nie lank genoeg vir die aantrek proses sy ejakulasie kan terughou nie ensomeer . . .
  • Gebruik net smeermiddels wat water of silikoon as 'n basis bevat saam met latex-kondome. Olierige smeermiddels kan die latex afbreek en die kondoom onveilig maak. Alle smeermiddels kan met poli-uretaan kondome gebruik word.
  • Die man moet die randjie van die kondoom aan die basis van sy penis vashou wanneer hy dit uit die vrou se vagina uittrek nadat hy geëjakuleer het, anders kan die kondoom afgly, agterbly in die vrou se vagina en semen kan uitlek en so die kanse vir swangerskap verhoog.
  • Kondome vir voorbehoeding moet nommerpas wees. Indien te groot, glip dit maklik af. Sien MYSIZE-kondome vir nommerpas groottes.
  • Wees versigtig om nie die kondoom te skeur terwyl jy dit met lang naels oopmaak nie.
  • Kondome werk nie goed vir seks in water nie! Hou dit ingedagte as jy planne het vir die swembad (chemikalieë breek dit af) of stort/jacuzzi (die warm temperatuur breek dit af). Kondome kan ook makliker in water van die penis afglip.
  • Die meeste kondome is in 'n bietjie van hul eie smeermiddel verpak.
  • Prettige kondome (sien onder) kan ook veilig vir voorbehoeding gebruik word, mits die basiese vereistes van voorbehoeding beslis vervul word.

Prettige planne met kondome

Kondome kan lekker speelgoed wees wanneer voorbehoeding nie die hoofdoel is nie en die klem op pret val. Hier is 'n paar voorbeelde:

• Kies een van vele prettige kondome en verras jou man daarmee:

  • Kry een in verskillende geure wat jy kan opvreet van sy penis af (moet net nie verwag dat jy nie kan swanger raak indien hy dan nog later in jou ejakuleer nie!).
  • Jaag mekaar rond nadat hy sy gloei in die donker-kondoom aangetrek het. Dié kondome het drie lagies, waarvan die middelste die materiaal bevat wat sal gloei in die donker nadat julle dit vir sowat 30 sekondes aan lig blootgestel het.
  • Trek vir hom 'n rooi, aarbei-gegeurde kondoom aan – ideaal as jy nie van die smake tydens orale seks hou nie en ook nie lus is vir die smaak van kondoomsmeermiddel en latex nie! Dis ook ideaal wanneer jy die kondoom vir hom wil aantrek met jou mond (sien onder). "Aarbeie en room, skat?".
  • Stimulerende kondome (ekstra kinkels in die latex om hom meer intens te stimuleer of knoppe om jou meer intens te stimuleer).
  • Kondome met pepermentgeur-smeermiddel – goed vir smaak tydens orale seks en vir jou 'n tintellende gevoel vaginaal-langs . . .
  • Kry verskillende kleure kondome vir verskillende geleenthede: rooi/groen vir Kersfees, rooi vir Valentynsdag, jou gunsteling kleur vir jou verjaarsdag. Jy kan ook 'n spesifieke kleur uitsoek wat vir julle albei iets spesiaals simboliseer.
  • Kondome wat effens verhit weens liggaamsvloeistowwe – 'n heerlike, warm aand vir julle.
  • Gebruik 'n kondoom as 'n uitnodiging: Dink net hoe lekker hy gaan kry as hy die pakkie waarop staan: "Stud" of "Maximum love" in sy skootrekenaar kry wanneer hy dit by die werk oopmaak (liefs nie in die raadsvergadering nie!).

Met jou mond?

  • Al ooit gewonder hoe 'n mens 'n kondoom met die mond aansit? Hier is jou aanwysings:
  • Kies 'n kondoom waarvoor jy kans sien vir die smaak – daar is heerlike, gegeurde kondome hiervoor beskikbaar. Haal die kondoom uit die pakkie en bekyk dit mooi sodat jy weet wat bo moet wees en in watter rigting dit gaan afrol.
  • Sit die kondoom in jou mond met die leë hoedjie (semenreservoir) na jou mondholte se kant toe.
  • Die opgerolde randte van die kondoom moet buite jou lippe lê en die reservoir moet tussen jou tong en jou verhemelte lê.
  • Met die kondoom in jou mond, maak 'n "o"-vorm met jou mond.
  • Om die lug uit die kondoom uit te hou – druk die reservoir teen jou verhemelte vas met jou tong.
  • Hou die basis van jou man se penis (hy moet 'n ereksie hê) stewig vas met jou een hand sodat jy dit stabiel kan hou.
  • Sit die kondoom met jou mond oor die punt van sy penis. Druk steeds die lug uit deur jou tong teen die reservoir en om sy penis punt te druk.
  • Gebruik jou lippe om die kondoom oor die penis af te rol sovêr as wat dit vir jou gemaklik is, terwyl jou hele mond reg rondom sy penis gaan (sonder dat jou tande aan sy penis raak). Jou lippe lei jou in die regte rigting.
  • Wanneer die kondoom aan is, maar daar nog 'n stuk onbedekte penis oor is, haal jou mond versigtig af (hou die rante van die kondoom met een hand vas indien dit wil afglip).
  • Sit nou jou mond om die kant van sy penis net bo die rante van die half-afgerolde kondoom en rol dit verder af deur met jou mond en tong in die rigting van die basis van die penis te vryf. Jou hande kan maar 'n bietjie help as die kondoom moeilik afrol omdat dit styf pas.
  • Jy kan ook enige lug wat vasgevang is in die kondoom só met jou lippe en druk met jou tong op sy penis uitvryf na onder. Onthou jou tong en lippe is baie kragtig – fisies en sensueel. Dié stap raak dalk alte lekker dat jy net hier vashaak!
  • Sodra die hele kondoom afgerol is, kan julle voortgaan met julle volgende plan: orale seks vir hom, penetrasie, stimulering met die hande – wat ook al julle dié keer voor lus het.
  • Eksperimenteer en oefen. 'n 'Kunsmatige' penis, soos 'n wortel of 'n komkommer, werk ook goed hiervoor.
  • Wees geduldig met jouself en hê hope sensuele pret in die proses van leer.

Ander belangrike wenke:

• Leer jouself om nie skaam te wees wanneer jy in die winkels vir kondome soek en daarvoor betaal nie. Die feit dat jy kondome gebruik vir voorbehoeding of vir pret, is iets om op trots te wees. Stoot jou bors uit en dink solank aan sy gesigsuitdrukking wanneer jy hom daarmee verras en aan albei van julle se plesier.

• Eksperimenteer – dis glad nie baie duur nie en kan julle albei verby sommige inhibisies oor seks vat.

• Sommige mense gebruik kondome omdat dit vir hulle minder morsig is as die semen opgevang word. Maak seker jou maat voel dieselfde hieroor as jy.

• Maak maar seker van die vervaldatum op die pakkie indien julle dit wel vir voorbehoeding gebruik – menigte babatjies is al verwek omdat dié stappie oorgeslaan is.

• Indien jy nie kondome het en nie daarvan hou om dit vir seks te gebruik nie – hier is nog wenke vir ander gebruike:

  • Vul die kondoom met meel en siedaar: 'n nuttige stres bal.
  • Vul die kondoom met water vir 'n stuitige water bom.
  • Blaas die kondoom op en maak interessante ballonvorms daarvan.

Wie nie waag nie, wen nie en wie te veel waag, raak dalk swanger! Ondersoek die moontlikheid daarvan om kondome te gebruik as 'n lekker erotiese verassing of speelding; as 'n alternatiewe voorbehoedmiddel of as 'n uitweg om seks of orale seks vir jou meer prettig te maak. Dalk is daar vir julle 'n handige presentjie verseël in dié klein pakkies.

 

Add comment


Security code
Refresh