facebooklogo  twittericon
Soen só!
soenso

Jou 101-kursus . . .

Boeke, films, stories en liedjies propageer al eeue lank die enigma van die soen. Duisende jare lank al is die kus die simbool van liefde – liefde tussen diere, vriende, familie, besittings, en ook passievolle liefde tussen twee mense.

Ongelukkig, soos ’n vreemde taal, fietsry of tango-dans, verleer ’n mens vinnig hoe om behoorlik te soen as ’n mens dit nie genoeg oefen nie. Soene word afgewater ná ’n vinnige kus op die wang voor Manlief werk toe vertrek en jy jou eie besige dag moet gaan aanpak.

INTIEM het, om dié rede, ’n handleiding vir behoorlik soen saamgestel, sodat jy vinnig-vinnig kan leer om weer te vry soos ’n tiener.


Geskiedenis van die soen

Antropoloë weet nie veel van wanneer presies die soen begin het nie, maar glo dat, omdat dit deel is van seksuele en intieme aktiwiteite, dit heel moontlik instinktief kon gebeur het. (Sommige diere soen, lek of knibbel ook aan mekaar). Omdat die historiese kunstenaars dit moontlik as intiem en persoonlik gesien het, is dit weinig in die kunste van daardie era gesimboliseer.

Die oudste literatuur waarin daar na ‘soen’ verwys word, is Indiese tekste van sowat 1500BC. Beelde van ongeveer dieselfde tyd wys ook mense wat mekaar innig soen. Die Indiese godsdienstige teks, die Kama Sutra,wat in die 6de eeu voor Christus geskryf is, verwys ook na ’n verskeidenheid tipe soene.  
Die Romeine het drie verskillende name vir ’n soen gehad: Osculum was ’n soen op die wang, Basium was ’n soen op die lippe, en Savolium was ’n oopmondsoen. Dit was ook hier waar dit tradisie geword het dat paartjies hul troue aankondig deur mekaar passievol voor hul familie te soen. Vandag nog sluit ons die huwelikseremonie op dié wyse af. 

Ons lees ook in die Bybel hoe Jesus en sy dissipels mekaar gesoengroet het, en hoe Judas Jesus verloën het deur om Hom te soen terwyl die soldate toegekyk het. In Ester 13:13 vertel Ester hoe sy selfs Aman se voete sou gesoen het om haar mense te spaar en in Hooglied skryf Koning David paragrawe oor die kus van sy geliefde. Vandag nog soen katolieke die Pous se ring as hulle die kans gegun word, en sekere priesters groet mekaar nog met ’n soen op die wang.

Verskillende tipes soene:

Probeer gerus dié soene met jou geliefde, of ontdek jul unieke soen en vertel ons daarvan op INTIEM se Facebookblad.

Die vlindersoen

Die vlindersoen is wanneer jy vir Manlief oor sy hele gesig saggies soen – sy oë, voorkop, wange, nek, ore, en uiteindelik lippe. Dié soentjies is onverwags en baie liggies, en voel amper soos ’n vlinder se vlerke oor sy gesig. Fladder ook jou wimpers vir ekstra effek. Die vlindersoen kan eindig in ’n diep en passievolle soen op die mond.


Die onder- (of bo-) lipsoen

Neem jou ridder se een lip (jy kan kies of dit sy onderlip of bolip moet wees) in jou mond en suig saggies daaraan. Gaan dan oor na ’n oopmondsoen en speel met jou tong saggies in sy mond.


Die verkennende soen

Begin hom op sy lippe soen en beweeg daarna oor na sy ore, sy nek, skouers, en verken dan só sy hele liggaam met jou soene.


Die masseersoen

Laat jou man op sy maag lê en sit gemaklik bo-op hom sodat jy sy rug en skouers kan masseer. Smeer dan masseerolie op sy rug en begin om van die stres in sy skouers ontslae te raak. Volg dan jou handewerk op met soene orals waar jou hande was.


Die smelt soen

Met ’n blokkie ys in jou mond, trek jou geliefde nader en stoot die ysblokkie, met die gebruik van jou tong, van jou mond na syne. Wanneer hy die ysblokkie ‘teruggee’, klem die blokkie tussen jou lippe vas en smeer dit oor sy se lyf. Die perfekte manier om af te koel op warm somersaande.


Die stofsuier-soen

Wanneer julle oopmond soen (‘vry’), suig saggies lug in, asof jy deur jou geliefde asem haal. Jy kan ook saggies aan sy tong suig – ’n teken dat daar baie meer is wat vir hom voorlê.


Die knibbel soen

Nadat jy hom op sy mond gesoen het, beweeg oor na sy nek en knibbel saggies van die holte in sy nek op na sy oor en terug. Dié soen word gewaarborg om vinnig jou man se volle aandag te kry. Hoe om oopmond te soen in tien maklike stappe.


Goed, jy het nou die know how oor verskillende tipe soene, maar wonder waar en hoe om net te begin. Werk deur hierdie 10 stappe om vinnig-vinnig dis kuskoningin van jou ridder te word:

Stap 1: Kyk diep in sy oë

Wanneer jy diep in Manlief se oë staar, stuur jy die boodskap dat iets spesiaals binnekort gaan gebeur. Raak stil en sit miskien jou hand op sy arm of skouer sodat jy sy volle aandag het.


Stap 2: Leun nader

Nou dat julle albei weet julle gaan soen, is dit belangrik om nader aan hom te kom. Beweeg stadig vorentoe. Indien jy te vinnig beweeg, kan jou man miskien net ongemaklik word en nie gewillig wees om saam te speel nie. Soos jy vorentoe beweeg, maak seker jy sit, lê of staan gemaklik. Buig jou kop ’n bietjie na een kant toe en maak seker jou lippe is in lyn met syne.


Stap 3: Berei jou lippe voor

Ontspan jou lippe, dit moet nie lyk of hulle teen mekaar geklem is nie. Jou lippe moet ook ’n bietjie klam wees, dus kan jy vinnig jou lippe nat lek indien jy nie lip gloss byderhand het nie.


Stap 4: Beweeg in

Maak jou oë toe net voor jou lippe aan syne raak. Toe-oë help jou om jouself in die oomblik te verloor. Maak jou mond effens oop wanneer jul lippe aan mekaar raak.


Stap 5: Die begin

Raak gemaklik met jul lippe wat aan mekaar raak. Gebruik jou tong om saggies aan sy lippe te raak en kyk hoe hy hierop reageer. Manlief sal dan waarskynlik sý lippe ook ’n bietjie oopmaak.


 Stap 6: Verken sy lyf

Die perfekte soen verwag ook van jou hande om betrokke te raak. Terwyl julle soen, gebruik jou hande om sy lyf te verken – trek hulle deur sy hare, sit jou hand onder sy ken en trek hom nader, of gebruik jou naels en krap saggies sy rug. As jy waaghalsig is, vryf liggies oor sy bors, glip jou hand onder sy hemp in of maak sy gordel los. Hy sal dan presies weet wat jy eintlik in gedagte het . . .


Stap 7. Tong-vertroeteling

Soos hy dan sy mond ’n bietjie oopmaak, speel en vertroetel sy tong met joune. Speel met jou tong oor die lengte van syne, beweeg in sirkels of ‘skryf’ self woorde met jou tong in sy mond.


Stap 8: Suig

Nadat jy sy tong geterg het met joune, probeer om saggies daaraan te suig, daarmee te speel, of saggies daaraan te trek met jou tong. Wees net versigtig dat jy dit nie byt nie, anders sal die soen-sessie vinnig iets van die verlede wees. 


Stap 9: Ontdek

Bestee tyd om die res van sy mond te ontdek, soos om byvoorbeeld die lengte van sy verhemelte of die spasie agter sy tande met jou tong te verken.


Stap 10: Beëindig die soen

Moenie te vinnig wegtrek na die soen nie – neem jou tyd en geniet dit! Wanneer jy wel wegtrek, kyk weer diep in sy oë. Liefdevolle vertroeteling is die perfekte manier om die Franse soen mee te beëindig. Lekker vry is beslis nie nét vir tieners nie! Dis maklik om vinnig-vinnig ’n bobaas vryer te word. Gryp dus élke moontlike geleentheid (en vir Manlief)!


Addisionele Bronne:

lilith-ezine.com
people.howstuffworks.com
newsforchristians.com
bibletools.org
teenadvice.about.com
romancestuck.com

 

Comments 

 
0 #1 Tania 2012-02-13 14:10
Net jammer dat manlief rook en om 'n rook mond te soen is nie aldag pret nie :sad:
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh