![]() Orale seks vir vyf Wilson-toffies . . . Twee lesers deel hul verhale oor die pad na liefde en heel word nadat hulle as kinders verkrag en gemolesteer is. Uit hul verhale blyk dit duidelik: dit is 'n bitter moeilike pad, maar jy kán 'n normale huwelikslewe hê! "Ek is vanaf 11-jarige ouderdom deur my pa gemolesteer en dit het aangehou tot sy dood – toe ek 15 jaar oud was. As 13-jarige is ek ook deur my neef gemolesteer, maar genadiglik het dit opgehou na my pa se dood. Toe ek 17 jaar oud was, het my kêrel my in die inryteater verkrag," vertel Tina met 'n dapperheid wat 'n mens se verstand te bowe gaan. "Soos die meeste mense wat gemolesteer word weet, voel 'n mens vuil, tweedehands, nie goed genoeg nie en veral dat dit jou skuld is. Die molesteerder en verkragter maak ook seker dat dit is hoe jy oor jouself voel. "Ek is baie jonk getroud (op 'n skrale 19 jaar) en was eintlik nog nie opgewasse vir die huwelik nie (dit weet ek nou), veral omdat ek op daardie stadium nog nooit berading ontvang het vir die molestering en verkragting nie. Ek het niemand daarvan vertel nie, dit was "my geheim" en altwee die mense wat my gemolesteer het, was toe reeds oorlede. My kêrel wat my verkrag het, het ek vermy. Hy is ook onlangs oorlede. Ek dink die moeilikste was om nie een van hierdie mans te kon konfronteer oor wat hulle my aangedoen het nie. Dit het altyd 'n skadu oor my gegooi. "Tydens my huweliksnag het ek besef hier is groot fout, want met elke aanraking van my man het rillings deur my liggaam gegaan. Ek was gevul met absolute weersin, want dit het herinneringe teruggebring wat ek gedink het ek al vergeet het, maar mens vergeet nooit regtig sulke trauma nie. Ek het elke keer op intieme gebied letterlik fisiese pyn beleef, vaginale droogheid, en dit het soms gevoel asof ek "te klein" was vir my man. Dit was asof my liggaam nie wou reageer soos wat die Here bedoel het 'n vrou moet reageer op haar man se liefkosings nie. Hoe erger my liggaam negatief gereageer het, hoe erger het my man se beledigings geraak. Nadat ek hom vertel het van die molestering as kind, het hy my met minagting behandel. Hy het my daarvan beskuldig dat ek hom "straf" vir wat ander mense aan my gedoen het. Min het hy besef dat om my só te beledig net die "molestering" voortsit, met die gevolg dat ons nooit werklik op intieme gebied kon konnekteer nie. Hy het my selfs beskuldig van ander verhoudings. Toe ek sukkel om swanger te raak met my oudste seun, het hy gesê mens moet eers seks hê om 'n kind te verwek. Ek het hom byna nooit geweier nie, maar dit was nooit goed genoeg nie, want sonder begrip van sy kant het ek elke keer soos 'n oester toegeklap. Sy alkoholisme later het dit nog verder vererger, want ek kon myself net nooit regtig "losmaak" van die molestering en voortsetting daarvan deur my man se gedrag nie. "Na my ineenstorting in 2005 het ek vir berading begin gaan om my verlede te probeer verwerk. My sielkundige, Winah van Niekerk, het my op 'n lang pad na herstel gelei. Ek glo vandag dat die molestering 'n bydraende faktor was tot my uiteindelike egskeiding drie jaar gelede. Ons was 22 jaar getroud. Genesing het geleidelik plaasgevind. Aanvaarding dat wat gebeur het werklik nie my skuld was nie, dat ek nie daarna gesoek het nie en dat ek nie daarvoor verantwoording hoef te doen nie. "Na my egskeiding drie jaar gelede het ek besluit om nooit weer 'n verhouding te hê nie, want ek was bang dat hierdie "probleem" met elke verhouding sal opduik. Ek het nie baie vertroue in myself gehad dat dit nie sou gebeur nie. "Maar die Here is in beheer van jou lewe en Hy besluit oor sulke dinge, nie jy nie. Uit die bloute ontmoet ek die nuwe liefde van my lewe. Ek het uit die staanspoor oop kaarte met hom gespeel en hom alles vertel sodat hy weet "waarvoor hy hom inlaat". Dit het baie lank geneem voordat ek hom (en myself) genoeg vertrou het om myself 100% aan hom te gee. Maar wat 'n belewenis! Hy het soveel deernis en begrip. Hy behandel my met ongelooflike teerheid en liefde, soveel dat ek met alle eerlikheid kan sê dat my verlede nog nooit 'n invloed op ons intieme verhouding gehad het nie. Inteendeel, ek beleef nou 'n intieme verhouding met hom waarvan mens in tydskrifte lees en in flieks sien. Ek kan nie wag vir elke geleentheid wat ons kry om met hom liefde te maak nie, want dit is so spesiaal, sag en liefdevol! Die Here, berading, genesing, vergewing en die regte man het my lewe heeltemal verander – van eensaamheid tot voluit lewe op elke gebied. "Ek weet nou dat daar wel 'n gelukkige intieme lewe kan wees na molestering." Nog 'n leser, Jo-Anne, se verhaal het in Desember 1985 begin toe sy vier jaar oud was. "My moeder is in Mei oorlede. My pa was reeds weer getroud en my stiefma en vroeggebore bababoetie was in die hospitaal. Ons was tuis by my pa. Dit het begin met orale seks vir vyf Wilson-toffies. Op 9 jaar was orale seks nie meer genoeg nie, maar penetrasie wel. Toe ek 11 jaar oud was, het ek omgedraai en weggehardloop . . . "My eerste huwelik het baie krake gehad, onder andere vanweë my man se versoeke. Hy wou orale seks hê en ek kon dit nie gee as daarvoor gevra word nie – vrywilliglik wel. Ek moes ook altyd aan sy private dele vat voor die televisie, al het hy nie 'n ereksie gekry nie. Dit het my gegrief, want dit het my weereens beledig en goedkoop laat voel. Weereens word ek net gebruik vir 'n man se plesier. Hy was ten volle bewus van wat met my as kind gebeur het, maar sy behoeftes was belangriker. "Eendag het hy my in 'n oomblik van passie in die stort vasgedruk en ek het net geknak. Baie van my man se versoeke en manier van doen tussen die lakens het my aan my nagmerrie-ervarings herinner. "Ek het stelselmatig depressief geraak. Ek het altyd vroeër gaan slaap, en al het ek nie geslaap nie en hy het aan my begin vat, het ek gemaak of ek slaap. Daar was soms maande wat hy sonder seks moes klaarkom – ek het myself besig gehou met bak en brou en wat ookal net om nie langs hom in die sitkamer te sit nie. Ek het vir hom 'n Lazyboy-stoel gekoop sodat ek nie 'n bank met hom hoef te te deel nie. Sy onsimpatieke houding het my weggestoot. Om met hom te probeer kommunikeer, het ook nie gehelp nie. Ek het toe 'n terapeut gaan sien om met die verlede vrede te maak. Ek het as student ook 'n sielkundige gesien, maar dit was 'n man, en ek dink dit het daarom nie gehelp nie. Die tweede terapeut was 'n vrou. Sy wou my man ook sien, maar hy het gereken hulle sien fout waar daar nie is. Hy het begin rondloop en ons is uiteindelik na ses jaar van getroude lewe geskei. "Of die terapie gehelp het en of dit my tweede man se begrip is vir die situasie, weet ek nie. Ek was oop en eerlik met hom van die begin af. Ek het vir hom gesê wat hy nie van my moet verwag nie. Hy het my nog nooit gevra vir orale seks of om aan sy private dele te vat nie. Hy kla nooit oor die hoeveelheid seks nie. Hy luister altyd as ek praat, veral as die verlede by my kom spook. "My sekslewe met my tweede man is baie gesond en opwindend. Ek sien kans vir waaghalsige dinge waar seks in my eerste huwelik al op die huweliksnag 'n uitdaging vir my was. Ek glo my man se begrip het gehelp. Hy verwag nooit iets waarvoor ek nie kans sien nie en as hy onseker is oor iets nuuts, sal hy subtiel uitvra. Hy rol ook nie om en slaap ná die tyd soos in my eerste huwelik nie. Hierdie gebaar beteken die wêreld vir my. Hy maak altyd sy arms oop vir my om liefde daar te vind. Soms sê ons niks nie en lê net. Hy hoef net te sê "I love you" en ek voel bevredig op alle vlakke. "Ek dink dis baie belangrik dat mans sensitief en liefdevol moet wees na seks, anders herleef mens weer daardie gevoel dat jy misbruik is. My man kry dit mooi reg en ek waardeer dit baie. Elke dag saam met hom maak die pad na genesing soveel makliker. Hy is 'n harde mens, maar vol begrip as dit by intieme sake kom. "Kommunikasie en respek is baie belangrik." "Ek het 'n terapeut gaan sien wat my gehelp het om vrede in my hart te kry. My pa het my een aand in 'n tranedal om verskoning gevra. Die feit dat hy om vergifnis gesmeek het, het dit vir my maklik gemaak om te vergewe en aan te beweeg. "Dit gaan egter nie weg nie – jy leer om daarmee saam te leef en jou lewe daarby aan te pas. Aan die einde van die dag glo ek: ek is 'n wenner en nie 'n slagoffer nie." * Baie dankie aan die lesers wat hul verhale met ons gedeel het. Beide van hulle het gesê dat as hul storie net een ander mens kan oortuig dat hulle weer gelukkig kan wees, dan was die seer van hul storie weer neerskryf die moeite werd. Tina is een van talle Suid-Afrikaners wat steeds die trauma van seksuele misbruik met hul saamdra – selfs jare na die voorval. Verkragting is nie ongewoon in Suid-Afrika nie. In 'n studie daaroor het Statistiek Suid-Afrika bevind dat daar in 1997 altesaam 55 000 vroue in die land verkrag is. Meer as 30% van hulle is verkrag deur iemand wat hulle geken het. Tina en Jo-Anne is definitief nie alleen nie – daar is baie mense, mans en vroue – wat as volwassenes saamleef met die onreg wat hulle in die verlede aangedoen is. Maar moet hierdie ontstellende gebeure vir die res van hul lewens soos 'n donker wolk oor hul verhoudings hang en dit negatief beïnvloed? Of kan 'n mens daarvan wegstap en met trots sê: ek is 'n wenner, nie 'n slagoffer nie. Ons kyk na van die uitdagings wat jy in jou huwelik kan ervaar as gevolg van dié ontstellende gebeure. Daar kan baie emosionele probleme by volwassenes opduik as gevolg van seksuele trauma. Dit sluit dinge in soos die onvermoë om mense te vertrou, allerhande vrese, perfeksionisme en die vermyding van intimiteit – of dit seksueel of emosioneel van aard is. Dr Wilme Steenekamp, 'n mediese dokter, gee die volgende raad aan mense wat worstel met seksuele trauma uit hul verlede: "Elke mens is 'n individu en elkeen se trauma is anders – daarom kan 'n mens baie verskillende tipes effekte verwag by volwassenes wat as kinders gemolesteer is of selfs as volwassenes verkrag is. "Hou in gedagte dat 'n mens se psige 'n baie belangrike en ingewikkelde rol speel in jou seksuele ervaring (anders as wat ons dikwels in flieks en die media wysgemaak word!). Molestering laat baie diepgaande wonde. Mense sukkel dikwels met skuldgevoelens daaroor – 'Hoekom het ek dit nie gekeer nie?', 'Hoekom het ek dit toegelaat?', 'Ek is vuil' 'Ek is 'n slegte meisie/mens'. Hierdie skuldgevoelens kan mense inhibeer as dit by hul sekslewe kom of veroorsaak dat hulle nie hulself gun om dit te geniet nie. Dit kan verseker ook probleme soos vaginismus, ereksie-probleme, verlaagde libido, probleme met opwekking en probleme om 'n orgasme te bereik veroorsaak. "Kinders wat op 'n jong ouderdom gemolesteer is, verloor hul seksuele naïwiteit en voel dan baie verward oor hulle intense seksuele bewustheid en selfs seksuele gedrag. Die intense uitwerking van die roof van 'n kind se seksuele naïwiteit is iets wat ons ons moeilik kan indink waneer ons volwassenes is. "Mense ontwikkel dikwels probleme met die emosionele fasette van hul verhouding na seksuele trauma – hulle sukkel dikwels om te vertrou, mag woede of gevoelens van wraak ervaar en mag daarom sukkel met kommunikasie, jaloesie, libido, seksuele opwekking, ereksie of orgasme. "Sommige mense wat seksuele trauma ervaar het, word seksueel promisku – soms omdat hulle dink dit is al wat hulle werd is, soms omdat hulle ervaar dat hulle wil wraak neem deur so op te tree. "Mense wat seksuele trauma ervaar het, het beslis professionele hulp nodig om daardeur te werk. Ek sien dikwels mense wat dink hulle het die trauma klaar op hul eie verwerk en dan kom hulle tog agter (dikwels deur hulle gedrag in hul eie verhouding) dat daar nog onafgehandelde wonde is." Die webwerf traumaawareness.org sê dat iemand wat verkrag of gemolesteer is, die volgende vier uitdagings in hul huwelik kan beleef: Die uitdaging van vrees: die uitsonderlike trauma wat verkragting en molestering meebring, kan veroorsaak dat sekere vrese vererger as 'n mens getroud is, en dit kan normale interaksie tussen man en vrou moeilik maak. Maar die goeie nuus is dat hierdie vrese stil gemaak kan word deur 'n berader te sien, en jouself bewus te maak van hoe die aanval jou lyf en jou manier van dink beïnvloed. Kennis hieroor sal jou hoop gee jy dat jy jou verhouding kan regruk, en dit kan ook jou huweliksmaat help om te verstaan hoe om die probleem te benader. Onkunde skep dikwels situasies wat vermy kon word! Die uitdaging van ontoereikend voel: Dit gebeur dikwels dat sulke mense voel asof hulle nie goed genoeg is nie en baie onseker is oor hulself. Dit kan probleme skep in 'n huwelik wanneer 'n mens sy of haar lewensmaat se intensies verkeerd verstaan, moeilikheid ondervind in hul rol as moeder of vrou, en voel asof hulle nie 'n verskil kan maak nie. Dit kan help om te fokus op dié dinge waarin jy wel goed is en gemaklik is mee. 'n Berader kan help dat jy weer jou selfbeeld en –vertroue herbou sodat jy voluit kan lewe. Die uitdaging van intimiteit: iemand wat 'n verkragting oorleef het, kan probleme hê met seksuele en emosionele intimiteit. Dit is 'n maatstaf vir hoe goed jy dit wat in jou verlede gebeur het, verwerk het as jy 'n gesonde seksuele verhouding met jou man het. Dit kan slegs gebeur as 'n mens leer om jou lyf en sy reaksie teenoor jou lewensmaat as normaal te aanvaar. Vaginismus is een van die probleme waarmee vroue soms sukkel – die spierwande van die vagina trek styf en maak penetrasie pynlik of onmoontlik. Die spanning wat dit tussen man en vrou meebring, kan baie erg wees, veral as hulle nie weet hoe om die situasie te hanteer nie. Die goeie nuus is dat dit behandel kan word. Die uitdaging van sosiale vaardigheid: Seksuele trauma veroorsaak dat 'n mens vervreemd voel van ander mense, insluitend jou lewensmaat. Doeltreffende kommunikasie kan 'n lang pad stap om die probleme op te los. 'n Gesprek wat die persoon wat trauma ervaar het laat besef daar word na hul gevoelens en gedagtes geluister en dit word verstaan, sal daardie wonde aan hul hart help genees. As jou lewensmaat deur sulke trauma geraak is, kan jy help deur hom of haar die geleentheid te gee om besluite in die slaapkamer te maak. Dit sal hul selfvertroue opbou en hul meer gemaklik laat voel. Hulle sal rustig raak in die wete dat niks sal gebeur wat nie hul goedkeuring wegdra nie en mettertyd sal hulle al meer selfvertroue hê. Jou man of vrou mag dalk verkies dat daar 'n tyd van onthouding moet wees. Gee dit aan hulle, maar bou verdere intimiteit deur nie te verwyt nie, liefdevol op te tree en deur fisiese kontak soos 'n drukkie of hande vashou te wys dat jy hom of haar liefhet. Wees geduldig. Sulke diep wonde neem tyd om te genees, maar met die regte hulp en ondersteuning van 'n lewensmaat is dit moontlik! As jy een van die mense is wat hierdeur geraak is, of jou eggenoot is, maak daadwerklik werk daarvan. 'n Gelukkige, vervullende huwelik IS binne jul bereik! Addisionele bronne: traumaawareness.org; rape.co.za; marriagemissions.com; livestrong.com; womensweb.ca. |
Wen 'n iPad!
Koop die Apr/Mei INTIEM met Anel en James Alexander op die voorblad en soek die 2 appels wat ons in die uitgawe weggesteek het! Om in aanmerking te kom vir die wonderlike prys, laat weet ons op watter bladsy die appels wegkruip! (Jy hoef slegs 1 te vind om in aanmerking te kom vir die prys). Stuur dan die bladsy nommer en jou kontakbesonderhede na elanie@intiem.co.za en maak jou epos onderwerp "iPad Kompetisie". Indien jy nog nie jou nuwe INTIEM gekoop het nie moet jy opskud, die boekies vlieg van die rakke af! Jy kan INTIEM ook aanlyn kan lees by www.mysubs.co.za/Intiem. Inskrywings sluit 21/05 om 12:00. (Indien jy aangewys word as die wenner, moet jy kan bewys dat jy wel die boekie gekoop het).
laai gratis af
KLIEK HIER om die Bytjies, Blommetjies en My Kind gratis af te laai.
KLIEK HIER om "Oor Seks & Stuff" gratis af te laai.
KLIEK HIER vir 'n volledige lys van gratis dokumente.



















