facebooklogo  twittericon
Word jou sekslewe gesabboteer?
inleef
Moenie toelaat dat sekere karakters jou sekslewe saboteer nie. Neem vandag 'n doelbewuste besluit om jou brein te herprogrammeer – indien dit nodig is!

Miskien onthou jy een van die eerste gesprekke wat jy as jong meisie oor seks gehad het. "Hmm, dit lyk lekker," het jy gesê terwyl jy en jou vriendinne by 'n pajamapartytjie na 'n liefdestoneel op die televisie gekyk het. "O jig, ek kan nie glo jy dink dis cool nie," het jou een vriendin gesê terwyl die ander een bygevoeg het: "Ek het gehoor dis seer en dit neem lank voor jy by die lekker uitkom. Ek is so vrek bang, ek sien glad nie daarna uit nie!"

Dis 'n tipiese voorbeeld van seksuele bloudrukke. Elkeen van ons het een. 'n Mens se sekslewe kan jou lighoofdig van genot maak, maar jy kan ook erg teleurgesteld omdraai en slaap. En, glo dit of nie, die oorsaak lê dalk nêrens anders nie as in jou eie brein! Jou seksuele bloudruk is jou brein se verwysing van hoe jy oor seks dink en voel en dit word bepaal deur invloede wat jou onderbewussyn van jou geboortedag af vorm.

As jy omring was met gesonde en positiewe mense, het dit waarskynlik 'n positiewe bloudruk tot gevolg gehad – en floreer jou sekslewe nou. Daarenteen . . . as jou ma jou oor die vingers getik en gemaan het: "Goeie meisies vat nie dáár nie," vandat jy een jaar oud was, is die kans nie goed dat jy en Missus Vagina 'n goeie verhouding het nie!

Ongelukkig (of soms gelukkig!) word jou bloudruk nie net deur jou grootwordjare bepaal nie en is die karakters wat jou denke beïnvloed nie altyd van vlees en bloed nie. Dink 'n bietjie aan die media se rol in jou idee van seks. Op die kassie is seks altyd maklik, vuurwarm en romanties. Goed in die sin dat jy dalk jou idee van 'seks as plig' kan afskud, maar sleg as jy voel dat jy net nie daar bo kan bykom nie!

"Die goeie nuus is dat, met 'n bereidwilligheid om meer oor die realiteit van 'n gesonde, seksuele verhouding te wil leer, en met 'n bereidwilligheid om te verander, kan seks word wat dit bedoel is om te wees – 'n wedersydse, vervullende, fisieke, emosionele en spirituele uitdrukking van liefde en passie," sê Laura M. Brotherson op Selfgrowth.com. (Laura is ook die skrywer van die boek And They Were Not Ashamed – Strengthening Marriage through Sexual Fulfillment.) As jou sekslewe dus nie watwonders is nie, is dit dalk tyd om uit te vind hóékom nie. En om iets daaraan te doen!

Waak teen die volgende saboteurs . . .

Meneer en Mevrou Pa en Ma

Hmm, ons weet dis nie 'n aangename gedagte om jou pa en ma in die sendelingposisie voor te stel nie, maar het jy geweet dat die gene wat jy geërf het jou persoonlikheid, jou verhoudings met ander mense en jou sekslewe beïnvloed? As jou pa of ma 'n hoë seksdrang gehad het, is die kans goed dat jy ook een het. Jou ouers se houding jeens seks het 'n groot invloed op joune.

"As jy groot geword het met streng, religieuse ouers wat gesidder het by die aansig van kaal knieë en bly volstaan het by die storie van die ooievaar tot jy die dag 20 was, sal jy waarskynlik 'n ander seksuele bloudruk hê as iemand wie se ouers kaal rondgeloop en die kinders op afsprake gestuur het met 'n knipoog en 'n kondoom," skryf Tracy Love op ivillage.com.

Dalk was jou ouers blommekinders wat dagga in jul sitkamer gerook en nie veel erg aan monogamie gehad het nie. En dalk het jy teen dié losbandigheid rebelleer maar, meen Tracy, jy reageer waarskynlik steeds op hul aanvanklike siening en die kans dat jy jou tieners in 'n glaskas gaan toesluit, is skraal.

Jou gunsteling televisiesterre

Ai, was seks maar so volmaak, maklik en sonder komplikasies soos regisseurs se verbeeldings!

Jy kry twee tipes seks, meen Tracy. Daar is 'vervaardigde' seks en 'ware' seks. Vervaardigde seks word in botter gebraai, met suiker bedek en in kaneel gedompel. Dis soet, lekker en kleurryk met tonele wat jou na jou asem laat snak en jou groen maak van jaloesie (en nie noodwendig omdat die hoofkarakter lippe het wat jý kan aflek nie, maar omdat die vrou aan wie hy al dié onmoontlike dinge doen, 'n sellulietvrye en sonbruin lyf in die middel van die winter het!).

Ware seks lyk en ruik heel anders. Die lakens is gekreukel met (miskien) 'n koffievlek daarop, daar is morning breath in die lug en soms is daar friksiegeluide wat jou blosend laat. Omdat jy nooit sien hoe ander mense regte seks het nie, is dít wat jy op televisie sien jou enigste verwysingsraamwerk. Selfs al weet jy die regte lewe is nie soos Wisteria Lane nie, sal jou onderbewussyn dit begin glo as jy gereeld genoeg inskakel. Maar nou kom die dilemma: Jy voel vol vreeslike, vleeslike foute. Want jou borste lyk beslis nie meer soos torings nie en jou rug sal breek as jy dáái move probeer!

Flieks stel selfs hoër standaarde. Die akteurs word gekies vir hul perfekte lywe wat deur wêreldberoemde grimeerkunstenaars vervolmaak word en dan versigtig onder miljoene dollars se beligting geposisioneer word. Wat jy sien, is 'n perfekte paartjie wat poseer en kreun tot hulle (gelyktydig!) elkeen 'n aardskuddende orgasme beleef. Dit laat jou jaloers met 'n gevoel dat jy nie 'genoeg' is nie.

Johan en Santie van langsaan

Miskien bly julle in 'n dupleks met papierdun mure en het julle 'n Johan en Santie langsaan wat julle wil laat hóór hoe triomfantlik hul sekslewe regtig is! Maar as julle nie het nie, vervang dié twee name met dié van jou beste vriendin en haar (straight-out-of-heaven-it-seems) Manlief.

Dit behoort nie saak te maak wat Johan en Santie in hul slaapkamer doen nie . . . maar ongelukkig doen dit. Miskien glo jy nie daarin om jou slaapkamerbedrywighede met jou beste pel te deel nie, of dalk ís dit een van jou gunstelingtydverdrywe. Natuurlik net totdat Lelanie jou vertel van haar vier-orgasmes-in-'n-ry terwyl jy steeds sukkel om nommer een te bemeester! Of tot Maya jou vertel van hoeveel moeite haar kraakvars hubby in die slaapkamer met haar doen.

Wat jy nié weet nie, is dat Gideon, direk ná hy vir Maya 'n sensuele massering gegee het, blatant gesê het: "Sjoe, maar jy hét lekker geeët op ons wittebrood!." Dinge is nie altyd so goed, groot en onbetaamlik stout soos wat dit klink nie. Ons is so geneig om onsself te meet aan die mense om ons. En wanneer jy 'n boek lees met tien nuwe sekswenke, hulle almal probeer (tien uit tien vir jou!) en nie een is so lekker soos dit vir jou geklink het nie . . . voel jy soos 'n mislukking. Kan jy sien hoe sleg 'n oënskynlik goeie ding kan wees?

Hoe staan jy jou man teen sabbotasie?

As jy nie geseënd is met 'n binnekring wat jou seksueel inspireer nie, is dit nie die einde van die wêreld nie. Jy kan die problem herken en dit regmaak, meen sielkundiges. Dis hoe jy dit doen:

• Waak teen enige stereotipes wat jy al gevorm het, en daag hulle uit. As jou ouma op jou troudag vir jou geleer het dat "goeie meisies tjoepstil bly gedurende gemeenskap", skryf dit neer en vervang dit met: "'n Goeie vrou skreeu uit volle bors, al klouende aan die bedkopstuk!". Plak dit teen jou slaapkamer spieël en kyk daagliks daarna.

• Onderrig jouself seksueel. Bewapen jou met INTIEM en 'n paar goeie sekshandleidings en begin swot, ou sussie! Hoe meer bewyse jy het om ongesonde seksboodskappe mee teë te staan, hoe beter is jou kans om hulle te verander.

• Werk aan jou selfbeeld. As al jou vriendinne hul bes doen om 'jou voete op die aarde te hou' met daaglikse beledigings, oorweeg dit sterk om hulle te vervang. Omring jou met mense wat jou selfvertroue gee.

• Moenie huiwer om hulp te soek nie. Daar is baie kenners daar buite wat jou kan help om jou kop te herprogrammeer. Besoek 'n sielkundige, berader of seksuoloog. Een of twee sessies kan jou baie trane en selfondersoek spaar! En jou help om n goeie sekslewe terug te eis – jy verdien dit!

Bron: www.ivillage.com

Deur ANNELIZE STEYN

 

Add comment


Security code
Refresh