facebooklogo  twittericon
Elvis en sy blonde blom
ingesprek-elvis
Vir Elvis Blue, oftewel Jan Hoogendyk, en Vroulief Chireze is hul Idols-reis een groot avontuur. Nes die liefde. Hulle gesels oor hoe dit voel om jou drome te bereik, oor ouerskap en oor waarom hul huwelik werk.

Hy sitlê laag in die bank, nes ‘n wafferse Idol, terwyl sy “doll” gegrimeer word. Toe Elvis Blue as ons land se nuutste idol aangewys is, het dié jong ou (’n getroude man en pa) die land se verbeelding aangegryp met sy hart van goud en sy storie van die oorlede seun by wie hy sy naam ‘aangeneem’ het.

Elvis is ’n smooth ou, kan jy dadelik sien. ’n Rocker, maar ook ’n Afrikaanse, Christen boerseun wat jare lank geworstel het om ’n deurbraak in die musiekwêreld te maak.

Sy trouvrou het hy in 2003 in die kerk ontmoet.

“Dit is waar al die mooiste girls is . . . ”

Chireze het egter nie vanuit die staanspoor van hom gehou nie, en dit het harde werk gekos vir hom om haar te oorreed dat sy tyd van sogenaamde ‘veelwywery’ tot die verlede hoort.

“Ek het ’n bietjie van girl na girl beweeg in daardie stadium . . .” vertel hy, effens skaam.

“Sy kon dit sien. Maar my pa het gesê ‘’n aanhouer wen’ en ek het aangehou tot sy op die ou end erken het dat sy my ook like.”

O goeiste, ’n musikant?

Ná hulle begin uitgaan het, was die probleme nie op ’n einde nie, want Elvis het ’n vrees vir toewyding gehad.“Daar was ’n paar keer wat ek amper groot uitgelose het. En elke keer was sy bereid om my terug te neem. Dit het só aangehou tot die laaste keer toe een van my vriende gesê het dat as ek nie nou my dinges in rat kry nie, hý haar gaan uitvra. Ek het geweet: As enigiemand anders met haar sou uitgaan, sou ek dit nie kon hanteer nie. En sy het gesê: ‘Dit is jou laaste kans, Elvis . . .’”Chireze was maar skepties oor ’n verhouding met ’n musikant.“Ek het gedink: Bly maar liewer weg van sulke ouens af want hulle is bad news. So, ek het hom vantevore sien optree, maar dit was by ’n kerkkamp waar ek regtig van hom gehou het. Niemand daar wou met my vriende wees nie want ek was nuut. Eintlik was daar net twee mense wat bereid was om met my maats te maak. Die een was ’n gestremde seuntjie en die ander een was hý. Hy het sulke oulike goedjies gedoen om my aandag te trek. Hy is byvoorbeeld mál oor daardie regte, oudtydse Coke-botteltjies en het elke dag vir my ’n blom in so ’n botteltjie in my kamer gesit.”

’n Diamant-skattejag!

So, Elvis is romanties?“O ja,” bieg Chireze.Hul verlowing is haarfyn beplan. Elvis het gereël dat haar baas dié spesifieke dag lelik met haar sou wees sodat sy gedink het ’n aaklige dag lê voor. Hy het ook gereël dat haar werkgewer ’n koevert vir haar gee. Een met ’n skatkaart (selfs gebrand rondom die rante!) en aanwysings na ’n spa toe.By die spa is Chireze bederf en het sy nóg ’n koevert ontvang met ’n verdere leidraad en kontant waarmee sy vir haarself iets mooi kon koop.Van daar af is sy huis toe gestuur met die boodskap dat iemand haar sou kom haal. Sy is opgelaai en na ’n Franse restaurant geneem waar die boonste verdieping vir hul tafel alleenlik bespreek is.“Ek wag toe vir haar daar, netjies aangetrek, gestort,” spot hy.“Selfs lekkerruikmiddels aan . . .”Chireze vertel verder: “Toe vra hy my: ‘Wat maak jy . . . daar is ’n troue op 1 Julie? Is jy beskikbaar om te gaan?’ Ek dog toe hy praat van een van sy eks meisies se troues en vra: ‘Wie se troue is dít nou weer?’ waarna hy op sy knie neergesak het.”Niemand kan só ’n verlowing weerstaan nie. Chireze het ”ja” gesê en dit het hulle twee maande gegee om die troue te reël wat op 1 Julie 2005 by Green Leaves in die Magaliesberge was.

Fiasko van ’n wittebrood . . .

Hulle is Pilanesberg toe vir hul wittebrood voor hulle Mauritius toe vertrek het – ’n totale fiasko!Elvis het baie siek geword in die verte en hulle het nie genoeg geld gehad nie.“Kom ons stel dit só: Ek het ons in Mauritius gekry, maar dis waar dit geëindig het.”Boonop het die medisyne wat hulle vir hom gegee het, hom negatief beïnvloed en hy kon nie slaap nie. Chireze het besluit om in te gryp en hom twee antihistamienpilletjies (met ’n kalmerende uitwerking in te jaag. Dit was heeltemal te veel en Elvis het in die restaurant aan die slaap geraak.“Ek het my man gedrug en moes hom die volgende oggend lughawe toe sleep!”Hy het twee dae lank geslaap. Vandag is dit ’n storie wat jy graag vir jou kinders sal oorvertel en hulle lag lekker hieroor.

Wedersydse bewondering

Wanneer hulle gesels, kan jy hoor dat dié twee baie respek vir mekaar het. Die eienskap wat Chireze die meeste bewonder, is Elvis se wilskrag.“As hy sy kop op ’n ding sit, druk hy deur. Soos sy besluit om die meisies te los. En om vroeg Bybelstudie te doen . . . hy kon nooit vroeg opstaan nie want hy is glad nie ’n oggendmens nie. En een oggend het ek gelees oor hoekom ’n mens stiltetyd in die oggend moet hou. Hy het gesê jy kan nie ’n Christen wees as jy nie opstaan voor dit lig word en stiltetyd hou nie. Daardie oggend het hy vroeg opgestaan en het dit nog nooit weer nié gedoen nie.”Waarvan hou hy?“Wel, kyk hoe lyk sy! Sy is beeldskoon. Sy het integriteit. Sy is ’n wonderlike ma. En sy is nou al amper ses jaar lank met my getroud. Vir ses jaar lank was ek ’n musikant met groot drome, waarvan niks gerealiseer het nie, maar sy het by my gestick want sy sien altyd die beste in my raak. Wat méér wil ’n man hê . . .?”

Ons eerste droom

Hoewel hulle nog redelik jonk getroud is, het dié paartjie al hul fair share van drama en trane gehad.“Ons wou baie lank kinders hê en ons kon nie,” vertel Elvis.“Ons het ’n paar miskrame gehad en ons wou ook ’n dogtertjie aanneem wat by ons in pleegsorg was, maar dit het baie sleg skeefgeloop.”Hulle was op die punt om vrugbaarheidsbehandeling te kry, maar ná die miskrame was dit emosioneel vir Chireze te uitmergelend en het hulle besluit om te wag. Ses weke later was hulle egter vanself swanger met Lila, hul dogtertjie wat onlangs een jaar oud geword het! Haar naam beteken “jy is myne” en sy is hul alfa en omega.Chireze gesels oor die miskraam: “Dis maar ’n moeilike ding, ’n miskraam. Ek het aan depressie gely daarna want ons wou nog altyd kinders gehad het en dit was vir my baie erg want hulle kon niks fout vind nie. En as ’n mens dink ’n miskraam is sleg . . . dit wat ná die tyd gebeur het, was soveel erger want jy raak obsessief. Die mense om jou verstaan dit nie en wil jou help met mooi woorde, maar eintlik doen hulle meer skade as goed.”Elvis voeg by: “Ja, in daardie stadium moet mense net stilbly. Hulle dink hulle gee raad, maar jy wil dit nie hoor nie.”Chireze het haar werk bedank ná Elvis Idols gewen het en sy is nou voltyds ma.“Ons het besluit dié ding kan ons albei insluk of dit kan net vir my insluk. Dis vir ons great, maar ons moet seker maak dat ons nie heeltemal afwesig is nie en dat daar nog stabiliteit vir Lila is.”

’n Wonderlike avontuur

Het Elvis se deelname aan Idols Chireze se goedkeuring weggedra? En het sy geglo hy sou wen?“Ek het drie dae voor die sluitingsdatum toevallig daaroor op die internet gelees en vir Elvis gesê dis sy laaste kans – hy het niks om te verloor nie,” vertel sy.“Baie mense het vir my gesê dat as dinge goed gaan, dit baie rof sal wees want my man gaan vir drie maande weg van die huis af wees. Dit was vir hom ook sleg, want hy is ’n goeie en betrokke pa, maar dit was ’n droom en ’n geleentheid vir ons.”In dié stadium is dit ’n wonderlike avontuur en vir albei is dit baie opwindend, vertel Elvis.“Toe ons getrou het, het ons derduisende rande se skuld gemaak om dié ding wat ek doen van die grond af te kry en dit het net horribly gefail. Ons het vir ses jaar lank, tot net voor Idols, aan daardie skuld af betaal. Nou staan ons op die rand van iets wat baie groot kan wees en ons toekoms vir ewig kan verander . . .”Van die begin af, het Chireze geglo dat Elvis sal wen.“Ja,” sê hy.“Sy like my, sy dink nog altyd net die beste van my.”

Ouerskap was ’n voordeel

Gedurende die kompetisie was Elvis baie bewus van die feit dat hy getroud is, met ’n kind. Dit het hom en die deelnemer wat tweede gekom het, Lloyd Cele, van die res onderskei.“As jy getroud is, met ’n kind, besef jy daar is dinge wat belangriker is as ’n sangkompetisie. Daar is groter dinge en dit was so ’n bietjie van ’n voordeel want dit het beteken dat ons nie over commit het nie. Ek is iemand wat baie gou desperaat kan raak, maar ek het geweet ek het ’n vrou, ’n kind en ’n lewe weg van Idols af. Dié is net ’n deel van my reis as musikant, maar ek is meer ’n man en pa as wat ek ’n musikant is.”Wat het dit hulle van die huwelik geleer?In hierdie stadium gaan dinge nog baie mal, erken hulle, maar “. . . ek dink dit gaan om vasbyt,” vertel Chireze.“Baie mense vra of ek nie bang is dat hy nou ’n affair gaan hê nie. Ek dink die belangrikste is om te besef ons gaan moet harder werk aan ons huwelik. Ons het dit geweet voor ons ons hiervoor ingelaat het. Dinge gaan nog tot dusver so mal dat ons nie kans gehad het om oor ons toekoms te wonder nie. Al plan is nou dat Lila oraait is en dat ons dit gaan maak.”

Ons drome is reeds waar . . .

Hulle droom graag saam en hul twee grootste drome het waar geword. Lila en Idols.
Beide Elvis en Chireze glo dat die huwelik werk omdat hul geloof sentraal in hul verhouding staan.
“Ek kan my nie voorstel hoe dit moet wees om getroud te wees as dit nié so is nie,” vertel Elvis.
“Ek is ’n bad ass en sy is ’n bad ass . . . maar omdat Hy sentraal in ons lewens staan, raak ons net beter. Ons sou nie getroud gewees het as dit nie vir Hom was nie.”
Wanneer jy vra hoe belangrik intimiteit in die huwelik is, roep Elvis: “Liefie, jy moet luister wat sy sê, sy praat oor intimiteit!”
Hulle lag.
“Ek dink dis baie belangrik,” sê Elvis.
Chireze voeg by: “Dit ís belangrik, maar daar gaan altyd tye kom wat dinge nie uitwerk soos jy wil hê dit moet nie en dan moet dit nie so ’n belangrike rol speel dat ’n mens dink ‘O gonna, wat nou?’, en dit op ’n ander plek gaan soek nie. So, vir my is seks nie alles nie. Daar is belangriker dinge in ’n verhouding, maar ek dink nie ’n paartjie kan daarsonder nie.”
Vra jy Elvis wat aan Chireze vir hom sexy is, antwoord hy: “Wie gaan dié tydskrif lees? Want as ek vir jou moet vertel wat ek in haar sexy vind, gaan julle ’n plastieksakkie en ’n ouderdomsbeperking nodig hê! Kom ons sê maar . . . die hele Chireze, elke deeltjie,” glimlag hy stout.
Die onderhoud loop tot ’n einde en Elvis wil seker maak INTIEM laat hulle nie soos ’n super paartjie klink nie.
“Mense moet weet: Ons fight en ons raak kwaad. So, elke paar weke, raak ons net die dinges in vir mekaar. Dan baklei ons oor goed soos ’n deur wat nie wil toegaan nie.”
Chireze is vlytig met woorde, meen Elvis, en wanneer sy iets sê wat hom diep geraak het (“en sy kan nogal dinge sê!”), neem dit hom “’n paar dae om reg te kom,” bieg hy.
Tog, dít wat hulle huwelik sterk hou, is hul geloof.
“Ons het besluit om Iemand te vra om in te gryp en Hy doen dit,” sê hy en sy voeg by: “’n Mens moet ook besef dat jy nie in die huwelik is vir jouself nie”.
“Die enigste ding wat jy self kan doen, is om te hou by die commitment wat jy gemaak het.”
Elvis lag na Chireze se kant toe: “Moet net nie op my cheat nie!” en sê dan op ’n ernstiger trant: “Dis eintlik so eenvoudig. As dinge nie goed gaan nie, vra Hom om jou uit te sorteer. Moet dit nie self probeer doen nie, want jy gaan dit nie regkry nie, maar as jy sukkel, raak stil en vra net: Help my asseblief.”
Daar is ’n ongewone gemaklikheid tussen die twee. Hulle verstáán mekaar en het darem ook al ’n paar sakke sout saam opgeëet. Geen wonder  dat Elvis sy “doll” se Idol is nie.
En sy?
 In sy eie woorde: “Beter kry jy nie . . .”

 

Add comment


Security code
Refresh