|
Jou lyf verander en een van die dae is jy ’n ma. Beteken dit dat dinge in die slaapkamer gaan verander? Ja, dit kan . . . ten goede! Baie vroue ervaar ’n verhoogde seksdrang in dié tyd, en gebruik swangerskap om goeie, intieme herinneringe saam met hul man op te bou. As dit nie die geval met jou is nie, onthou dit is net tydelik!
Dit is juis van soveel bedpret saam hê dat jou maag nou staan waar hy staan . . . maar beteken jou swangerskap nege maande sonder seks? Definitief nie. Die kanse is goed dat dit juis ’n besige tyd in die slaapkamer gaan wees! Baie vroue vind dat hulle aantrekliker en wulpser voel as hulle swanger is. In ander bring hul veranderde hormone ’n nuwe vonkel in die oog wat manlief goed besig hou tussen die lakens. Ander vroue sê dat hul seksdrang kom en gaan as hulle swanger is. Eerste trimester (week 1 tot 12) Die beste van tye, en die slegste van tye. Die opgewondenheid oor die nuwe lewe wat in jou groei kompeteer met daardie berugte vroeë swangerskapsimptome van buierigheid en onsekerheid oor die onbekende wat voorlê. Moegheid, naarheid, teer borste en die gevoel dat jy kort-kort badkamer toe moet gaan, kan bydra dat jy belangstelling in seks verloor. Dit geld egter nie vir alle vroue nie. As die werklikheid van die lewe wat in jou groei hom al getref het, mag manlief jou dalk op die hande dra en soos ’n kosbare pakkie hanteer, wat natuurlik jou hart warmer vir hom sal laat klop. Julle kan ’n hegter emosionele band hê in dié tyd, wat julle ook fisies nader aan mekaar sal bring. Noudat julle nie meer bekommerd hoef te wees oor voorbehoeding nie (effens te laat vir daardie ene!), kan julle spontaan optree. Dit alleen is vir baie paartjies ’n groot aanmoediging. Seks tydens swangerskap kan groot misverstande veroorsaak. Jy mag dalk sexier as ooit voel, maar bang wees dat jou maat dink jou groter lyf is onaantreklik en dat hy nie meer van jou hou nie. Hy, aan die ander kant, mag jou geronde vorm onweerstaanbaar vind, maar is bekommerd dat jy onaantreklik of goor voel. Die oplossing: kommunikasie. Tweede trimester Die tweede trimester is van week 13 tot 25. Die slegte nuus is dat jou gunsteling denim moontlik nie meer pas nie en jy maar sal moet belê in ’n vrolike sirkustentrok en ’n gemaklike Obelix-broek! Die goeie nuus is dat baie vroue vind dat hul seksdrang die hoogte in skiet in hierdie trimester. Aansienklik meer bloed vloei deur die vagina en voortplantingsorgane, wat kan veroorsaak dat jy meer seksueel bewus is as gewoonlik. Vir sommige gelukkige vroue beteken daardie verhoogde bloedtoevoer dat hulle makliker ’n orgasme kry – selfs meer as een keer. Jou groter borste en jou meer geronde voorkoms kan jou ook sexy en aantreklik laat voel. Die meeste van daardie nare swangerskapsimptome is hopelik iets van die verlede, wat jou meer energie en lus gee om hierdie kosbare tyd met jou man te deel. Jou boep is besig om groter te word, maar is darem nog klein genoeg om gemaklik seks te kan hê. Derde trimester Die derde trimester is van week 26 totdat jou baba gebore word op om en by 40 weke. Solank daar nie komplikasies met die swangerskap is nie, is dit steeds veilig om seks te hê. Sommige paartjies doen dit nog tot enkele ure voor hul baba gebore word. Die baba is veilig in sy vrugsak in vloeistof, omring deur die uterus se sterk spiere (die menslike weergawe van ’n Volvo met ’n vyfster NCAP-rating). ’n Digte slymprop keer ook dat niks naby die baba kom wat infeksie kan veroorsaak nie. Dinge wat op hierdie stadium in die pad staan van ’n opwindende sekslewe, is dat jy dalk nie in die bui is nie as gevolg van moegheid of ongemaklikheid. Jou ongemaklike groot boep en die opwinding oor die baba se koms kan jou belangstelling in seks laat afneem of verdwyn. As julle albei ongemaklik is met die idee van seks terwyl jy swanger is, onthou daar is ander maniere om ook intiem met jou maat te verkeer! Daar is mense wat glo dat seks en tepel-stimulasie help om kraam aan te help. Jou liggaam skei dan oksitosien af, die hormoon wat kontraksies veroorsaak. Semen op sy beurt bevat prostaglandiene wat die serviks “ryp” of sag maak, sodat dit kan voorberei vir die baba se koms. Hier is ’n paar idees vir seksposisies tydens swangerskap:
Addisionele bronne: webmd.com; childbirthsolutions.com; mayoclinic.com; givingbirthnaturally.com. |
laai gratis af

KLIEK HIER om die Bytjies, Blommetjies en My Kind gratis af te laai.
KLIEK HIER vir 'n volledige lys van gratis dokumente.
















