trileçe Lae cholesterol = gesonde sekslewe
INTIEM-DesJan2015-ani-cover  

cholesterol
Jy weet al teen dié tyd dat jy eerder die gestoomde vis bó die butter chicken moet kies, maar ai, romerige dinge is darem só lekker. As jy egter weet dat jou cholesterol ’n direkte invloed op jou sekslewe kan hê, sal jy dalk tóg die vissie oorweeg . . .

Navorsing toon dat 5,5 miljoen Suid-Afrikaners hoë risiko-kandidate vir hartsiektes is. Cholesterol is ’n vloekwoord in ons samelewing, maar ’n sekere vlak hiervan is nodig vir liggaamlike ontwikkeling. Cholesterol het ’n rol gespeel in jou sekslewe lánk voor jy een gehad het omdat dit integraal is tot die ontwikkeling van sekshormone. By vroue dra cholesterol by tot die vervaardiging van estrogeen en progesteroon en by mans help dit om testosteroon te skep. Sonder hierdie hormone sou ons nooit sekere liggaamlike eienskappe wat ons aan geslagte koppel (soos borste by vroue of harigheid by mans) gehad het nie.

Jy assosieer cholesterol met vetterige kossoorte, maar die meeste hiervan word deur ons eie lywe vervaardig. Die lewer vervaardig 75% van die cholesterol wat in ons bloed sirkuleer. Die ander 25% kom van kos af. Op normale vlakke speel cholesterol ’n belangrike rol om ons selle te help om hul werk te doen, maar ongelukkig is cholesterol heeltemal té hoog by die meeste mense. Hoë cholesterol veroorsaak geen simptome op die oog af nie, maar diep skade binne die liggaam. Mettertyd bou ’n dik laag plaak binne die are op, wat die spasie vir bloedvloei verminder en hartsiektes kan veroorsaak. Afgesien van hierdie rede, wat heeltemal groot genoeg behoort te wees, kan dit jou ’n slegte bedmaat maak!

Eerstens, stel jou voor: Jy en jou maat het ’n heerlike aand beplan. Die bui is reg, maar skielik sukkel jy om eh . . . junior . . . bo te kry. Erektiele disfunksie het verskeie oorsake insluitende spanning, moegheid, sekere medikasie en prostaatprobleme, maar hoë cholesterol is ook ’n sondebok, juis weens beperkte bloedvloei. As jy ereksieprobleme kry, moet jy die dokter te gaan sien. Een van die eerste dinge wat hy sal doen, is om jou cholesterol te meet. Met eenvoudige veranderinge aan jou dieet en met matige oefening kan jy dit alles vinnig verander. 

Net soos hoë cholesterol ’n man se ereksie kan beïnvloed, kan dit ook ’n vrou se vermoë om opgewek te raak beïnvloed. ’n Ekstra paar kilogramme maak haar geïnhibeerd om haar klere voor jou uit te trek, maar dit gaan nie net oor jou selfbeeld nie. Oorgewig verhoog jou cholesteroltelling en cholesterol kan opbou in jou are en dit moeilik maak vir bloed om jou bekkenarea te bereik. Dit maak opwekking moeilik en seks pynlik. Maar dit beïnvloed nie net die liggaam se natuurlike vermoë om smeermiddel te vervaardig nie. Omdat baie van die are na die klitoris lei, maak dit ’n orgasme of genot onmoontlik.

So, wat kan jy eet om jou cholesterolvlakke te verlaag – en gevolglik jou sekslewe te verbeter?

  1. Olyfolie en olyfolieprodukte is ryk in goeie olies en vitamiene E. Navorsing toon dat kossoorte met ’n hoë vetsuurinhoud “slegte cholesterol” kan verlaag en goeie cholesterol kan verhoog. Eet daagliks een of twee eetlepels olyfolie oor jou slaai.
  2. Kies jou margarien versigtig. Sagte margarien met ’n hoë poli-onversadigbare vetsuurinhoud sal help om jou cholesterol te verlaag. Die light weergawe van margarien het ’n verlaagde vet-, energie- en soutinhoud wat alles tot beter gesondheid lei.
  3. Peulgroente sluit in droë, gekookte of geblikte bone, lensies, ertjies en sojaprodukte. Dit het ’n hoë veselinhoud en is ryk in nutriënte insluitende minerale, vitamiene B en so meer. Dis natuurlik laag in vet en bevat nie cholesterol nie. Dit het boonop ’n lae glukomiese indeks. Eet peulgroente ten minste drie of vier keer per week, maar ideaal gesproke elke dag.
  4. Vetvrye joghurt en vetvrye suiwelprodukte. Volroom suiwelprodukte is hoog in versadigbare vet en moet vermy word. Moet dit egter nie uitskakel nie, maar gebruik eerder vetvrye melk, joghurt en maaskaas. Vetvrye joghurt is veral goed omdat dit ryk is in proteïene, kalsium en mikro-organismes wat help om bloedsuikervlakke te verlaag.
  5. Vrugte en groente wat ryk is aan anti-oksidante. Alle vrugte en groente kan help om cholesterolvlakke te verlaag en die hart te beskerm, maar veral kossoorte ryk aan vitamiene C (soos koejawels, spanspek, sitrus, aarbeie en die koolfamilie) en beta-karotien (soos perskes, mango’s, spanspek, pampoen, patats en wortels) en donkergroen groente (soos broccoli en spinasie).

Nog vyf kossoorte wat ’n positiewe verskil aan jou cholesterol kan maak:

  • Knoffel en ander lede van die uiefamilie
  • Heel, onverwerkte graansoorte
  • Vissoorte
  • Wildsvleis en volstruis
  • Omega 3-verrykte kossoorte

Addisionele bronne: www.webmd.com; www.health.howstuffworks.com; Dr IV van Heerden, DietDoc, opgedateer in April 2011.

Tuis

Terme & Voorwaardes

Sitemap