
Die sprokies eindig altyd met blink oë en ’n “happily ever after”, maar dit is eintlik op hierdie punt wat die ware storie eers begin. Daar is definitief goeie tye, maar daar is ook tye waar die liefde en koue water geruil word vir tye waar jy swaar saam eet aan julle sak sout.
Die sprokies eindig altyd met blink oë en ’n “happily ever after”, maar dit is eintlik op hierdie punt wat die ware storie eers begin. Daar is definitief goeie tye, maar daar is ook tye waar die liefde en koue water geruil word vir tye waar jy swaar saam eet aan julle sak sout.
Huwelike trotseer uitdagings op verskillende fronte. Liefde en vertroue is die hoekstene van ’n standvastige, gesonde huwelik. Wedersydse vertroue is baie belangrik, want dit bind julle saam as ’n eenheid en stel julle in staat om probleme saam te oorkom. As julle die vertroue verloor, kan julle huweliksbootjie in stormwaters beland.
Vertroue word beskryf as ’n sekerheid wat gebaseer is op vorige ervarings. Vertroue word mettertyd opgebou tot ’n sterk muur. Hierdie vertroue word egter ’n ernstige knou toegedien in gevalle wanneer een van die huweliksmaats ontrou was, leuens vertel het, ’n alkohol- of dwelmafhanklikheid gehad het, oneerlik was wat geldsake betref, pornografie ’n skeiding tussen julle veroorsaak het, ensovoorts. Jou vertroue in jou maat kon stelselmatig afgebreek geword het, ná ’n aantal slegte ervarings, of dit kon eensklaps in ’n oomblik in duie gestort het ná ’n verkeerde besluit. Ongelukkig is daar nie iets handig soos ’n undo-knoppie nie, en as julle jul huwelik wil red, sal julle deur die proses moet gaan om mekaar weer te leer vertrou.
Jou liefde vir jou huweliksmaat maak jou kwesbaar en jou maat het die vermoë om jou ten diepste seer te maak. Jy verwag dat hy só sal optree dat hy jou nie te na sal kom nie. Elke mens sien vertroue as iets anders. Vir sommige is ’n verhouding met ’n derde party iets wat hulle saam kan oorleef, terwyl ander dit sien as ’n onoorkombare skeiding tussen man en vrou. Sommige vroue kan bankrotskap sien as iets wat sy en haar maat saam moet oorkom, terwyl dit vir ’n volgende een beteken dat sy vertroue verloor in haar man se vermoë om die gesin te onderhou.
Daar is nie ’n kitsmanier om jou maat se vertroue in jou, of andersom, te herstel indien dit verloor is nie. Om weer by die punt van vertroue uit te kom, is dit nodig dat jy emosies soos woede en verwyt laat vaar, en ten volle op jul verhouding fokus.
Affairs
’n Affair is dalk die sekerste manier om vertroue in ’n huwelik te skaad. In baie gevalle voel ’n persoon dat hulle nooit weer hul maat sal kan vertrou nie en nie kans sien om met die huwelik voort te gaan nie. Vertroue beteken dat jy glo dat iemand eerlik met jou sal wees, getrou aan jou sal wees, beloftes sal hou, jou belange op die hart sal dra en jou nie sal verlaat nie.
Woorde alleen dra nie genoeg gewig om dié skade te herstel nie. “Ek is jammer, ek sal dit nooit weer doen nie,” sal nie genoeg wees nie. Die ander party kan dalk voel dat dié belofte ook op jul troudag gemaak is, maar nie gerespekteer is nie. Hoekom sal dit nou anders wees? Vertroue in jul verhouding kan weer opgebou word as die skuldige party bewys dat hy of sy betroubaar is deur sy gedrag of optrede te verander (en dit volhou) en sy maat kans gee om weer te leer om te vertrou. Vertroue beteken ook voorspelbaarheid: jou maat sal weet hoe jy sal optree in verskillende situasies, sonder om in jou te twyfel – of dit nou versoeking is wat oor jou pad kom of iets anders.
In die geval van ’n affair moet alle bande met die derde party verbreek word. Daar moet geen kontak meer wees met die buitepersoon nie. Die ander huweliksmaat moet ook verseker word dat alle kontak verbreek is en dat hy nou 100% gefokus is op julle verhouding. Die waarheid is baie belangrik. Die pad terug na vertroue sal baie klipperig wees indien die waarheid nie uitkom nie. Hoe moeilik dit ookal is, vertel jou maat die waarheid – elke keer.
As jy die skuldige party is, vra jou maat wat jy kan doen om sy vertroue weer te herstel. Kommunikasie is baie belangrik. Die een wat seergemaak is, moet ’n kans kry om sy seer uit te spreek en die skuldige party moet erken dat hy of sy verkeerd opgetree het. Laat jou lewe ’n oop boek wees – moenie geheime vir jou maat hê nie. Gee hom toegang tot jou rekeninge, selfoon en e-pos – dit sal aan hom wys dat dit vir jou ’n ernstige saak is dat hy jou moet vertrou en dat jy hard daaraan werk. Bespreek die oorsake wat aanleiding gegee het tot die affair, en besluit dan watter veranderinge julle in jul lewe en verhouding gaan maak. Jou maat sal ook rustiger wees as hy voel dat die kanse vir herhaling kleiner is en dat die omstandighede wat ’n affair vir jou aanloklik gemaak het nie meer bestaan nie. Dit is nodig dat beide van julle veranderinge maak.
Emmers vol geduld. Vertroue word nie in ’n dag herwin nie, dit is ’n tydsame proses. Praat met jou maat en probeer verstaan waardeur hy gaan. As jy meer insig het in hoe die ander persoon voel, sal jy beter weet hoe om die probleme op te los.
Geldsake
In ’n onlangse peiling op INTIEM se webtuiste het die meeste lesers gesê dat geldsake die een ding is wat die grootste struweling in hul verhoudings veroorsaak. ’n Maat wat geld verkwis, nie eerlik is oor geldsake nie of selfs die gesin finansieel sink, kan vertroue in hom skaad. Die skrywer van die boek Cash Clash, Mitch Temple, sê dat konflik oor geldsake soms net die oortjies van die seekoei is. Paartjies moet hul verhouding evalueer en seker maak daar is nie ander sake onder die oppervlak wat eintlik aanleiding gee tot die konflik nie. Indien julle herhaaldelik oor geldsake stry en nie ’n oplossing vind nie, is dit tyd om te gaan sit en die probleem dieper te bekyk. ’n Gebrek aan vertroue in jou maat se besluite kan die oorsaak wees.
Een van julle kan wantrouig voel as gevolg van vorige slegte ervarings en voel dat jy heeltyd op jou hoede moet wees om te voorkom dat dit weer gebeur. Spandeer tyd en doen selfondersoek oor jou vertroue in die algemeen, en oor jul geldsake spesifiek. Deel dit met jou maat en vra hom om dieselfde te doen. Net deur bewus te wees van wat die oorsaak van julle probleme is, kan al klaar help dat julle nader aan mekaar beweeg en konflik in die toekoms vermy.
Pad na herstel
Om vertroue in jou verhouding op te bou, moet jy kan bewys dat jy betroubaar is. As jy gereeld beloftes maak wat jy nie hou nie, sal jou maat geen rede hê om jou te vertrou nie. Die teenoorgestelde is ook waar: as jou maat leer dat jy by jou woord hou sonder om te faal, sal hy of sy jou kan vertrou – eers met die klein dingetjies, maar later ook met belangrike sake. Begin klein: as jy gesê het jy sal iets doen, hou daarby. Doen daardie huistake wat jy gesê het jy sal doen en daag (betyds) op as julle ’n afspraak het. Geleidelik sal jou maat weer besef dat hy of sy op jou kan staatmaak – ook met hul emosies.
Moenie jou maat die heeltyd daaraan herinner dat hy jou teleurgestel het nie – as julle besluit om aan jul huwelik te bou, fokus op die toekoms. Maar, as hy dit afmaak as onbelangrik, maak seker dat hy verstaan hoe diep hy jou seergemaak het. Julle gevoelens oor die saak is belangrik, maar moet nie dat julle verhouding hierby gaan stilstaan nie.
As julle in ’n rusie betrokke raak, plaas ’n wag voor jou mond. Dit wat jy in ’n oomblik van woede kwytraak, maar nie noodwendig bedoel nie, kan baie skade doen. Die werk wat julle reeds gedoen het om mekaar te vertrou, kan in ’n ondeurdagte oomblik ongedaan gemaak word. Bevestig weereens julle trou aan mekaar en erken julle albei se foute. Stel vir julself doelwitte. Dit hoef nie iets groots te wees nie. Die blote feit dat julle saam daaraan werk om iets te bereik, sal julle help om mekaar weer te leer vertrou.
Die pad na herstel is moeilik – vir beide die party wat moet leer om weer te vertrou en die party wat die vertroue geskaad het. As jy konstant agterdogtig is, wys dit vir jou maat dat jy hom steeds in twyfel trek en wantrou – en julle sal dan agteruit boer in plaas van vordering maak. Daar gaan tye wees wat jy jou maat die voordeel van die twyfel sal moet gee. Kommunikasie is die belangrikste wapen om die probleem te oorkom. ’n Huweliksberader kan julle ook help om die pad te stap na ’n hegte, waterdigte verhouding.
Addsionele bronne: beyondaffairs.com; savemymarriagetoday.org, 1lovespirit.com, yourmarriageadvice.com.
|
Comments