facebooklogo  twittericon
Deur dik en dun . . .
dikdun
Wanneer het die gesegde: 'Jy moet by jou man staan' verander in: 'Jy moet jou man staan'? Is dislojaliteit 'n euwel van ons tyd? En verstaan jy régtig wat dit beteken om lojaal teenoor Manlief te wees?

Julle trou en daar is sterre in jou oë. Dié man, held, ridder van jou is die mees volmaakte wese wat jy nog ooit gesien het en daar is niks wat jul geluk ooit in die wiele sal ry nie.

Fast forward ses jaar later. Intussen het hy sy werk verloor (en 'n baie veeleisende pos losgeslaan). Jy het 'n baba (en 12 kilogram) ryker geword en jy is lewensmoeg. Die seven year itch kruip al nader en sy gesnorkery snags is 'n gejeuk waarvan jy maar net nie kan ontslae raak nie! Skielik klink hy veel meer soos 'n seekoei as Prince Charming en jy weet want jy kry tyd om elke aand hierna te lúíster terwyl jy wag vir jul refluks-baba se volgende wakker-word.

Een dag kom kuier jou beste vriendin en jy vang momentum: "Ek weet Adriaan sal die stuipe kry as hy weet ek vertel jou dit, maar hy het 'n reuse snorkprobleem en ek ly aan sleep deprivation. Dis 'n aardige geroggel en dit maak my kláár."

Sy begin giggel en jy lag saam, maar sodra jy die sleutel in die voordeur hoor draai, fluister jy gou: "Moet asseblief niks vir Ruan hiervan sê nie. Adriaan is kwaai sensitief oor die hele snork-ding."

Maar . . . jy ken haar ook langer as gister en jy wéét sy gaan dit met Ruan deel. Skielik voel jy 'n bietjie goor. Jy weet jy het 'n grens oorgesteek wat jy eintlik nie moes nie. Is dit waar dislojaliteit begin . . .?

Wat is lojaliteit nou regtig?

Die HAT beskryf lojaliteit as: "Trou teenoor 'n saak of persone waarteenoor 'n mens 'n verbintenis of verpligting het."

Lojaliteit in die huwelik is egter een van daardie moeilik definieerbare begrippe. Dit gaan daarom om nie net aan jou maat getrou te wees en jou fladderende hart in toom te hou by jou nuwe bloedjong manlike tandarts nie, maar ook om dáár vir jou man te wees, selfs wanneer dinge nie te waffers gaan nie. Om hom steeds lief te hê ten spyte van die bierboep. Om hom steeds te begeer ten spyte van die grys om sy slape . . . om jou pom-poms te gryp en sy mees geesdriftige cheerleader te wees!

Maar lojaliteit in die huwelik is definitief 'n eienskap wat besig is om al skaarser te raak, meen kenners.

Daniel Molden, navorser en assistent-professor, meen: "Miskien betree jong volwassenes die huwelik met 'n foutiewelike idee van lojaliteit en wat van 'n getroue maat verwag word. Miskien is ons net nie só lojaal soos wat ons eens was nie," sê hy.

Michelle Joseph skryf in 'n internetartikel dat die media se boodskap dat dit okay is om meer keuses te wil hê, deels die skuld moet dra vir die hedendaagse samelewing se begrip van lojaliteit.

"In flieks vertel die tipiese Italiaanse familie 'n storie van sterk idees oor lojaliteit. Dié flieks eindig gewoonlik destruktief as gevolg van die dislojale optrede van die karakters," skryf sy.

"My idee van lojaliteit behels twee of meer persone wat 'n verhouding skep, gebaseer op wedersydse respek en soms stille toewyding," vertel sy.

"Dit lyk asof ons samelewing vergeet het wat die kernbetekenis van dié woord is. Dit wil voorkom asof 'n moderne definisie van lojaliteit is om eerder aan jouself lojaal te wees. Almal is so gefokus op al die keuses wat hulle gebied word, dat hulle vergeet het hoe om lojaal te bly teenoor een persoon of situasie."

Volgens haar geniet onmiddellike bevrediging deesdae voorrang bó lojaliteit. Mense neig deesdae na wat nuut en opwindend is en het nie meer die vasberadenheid en geduld wat ons voorgeslagte gehad het om 'n verhouding te laat werk nie.

"Baie mense tree 'n huwelik binne sonder om ernstig te dink oor die soort toewyding en lojaliteit wat dit verg om getroud te bly."

Armoede by die voordeur in . . .

Karel en Janine is jonk getroud. In die fleur van hul huwelik het hulle allerlei nuwe en opwindende sake-geleenthede aangegryp waarvan een 'n eksklusiewe restaurant was. Die restaurant was egter nie geskik vir die omgewing waarin dit geleë was nie en dinge het agteruit begin gaan. Kort-voor-lank was Karel finansieel in die knyp. Janine het die hasepad gekies en Karel vir 'n egskeiding gedagvaar.

"Ek kon nie meer die lewe leef waaraan ek gewoond was nie. Ons moes ons rande omdraai en boonop het dit baie stremming op my en Karel se verhouding geplaas. Karel was humeurig en ek moes net fyntrap. As ek dit gewaag het om myself met nuwe skoene te bederf, was hy woedend en dit was vir my onregverdig dat ek moes ly onder sy swak sakebesluite."

Karel se weergawe klink anders: "Janine is 'n rykmanskind. Sy kon nog altyd kry wat sy wou hê en toe dit finansieel met ons begin moeilik gaan, het sy geweier om halt te roep. Sy sou met ontwerperspakkies- en skoene by die huis aankom asof dit net nie tot haar deurgedring het dat ons dit nie kán bekostig nie. Natuurlik het dit my frustrasies net aangevuur en ek was ongeduldig met haar, maar ek sou graag aan die huwelik wou werk."

Vroeër jare sou dit ongehoord gewees het om onder sulke omstandighede te skei. 'n Vrou wat haar sout werd was, sou by haar man gebly het en hom ondersteun het deur dik en dun. Daar is sommige gevalle waar dié mans weer opgestaan het en selfs finansieel sterker as voorheen uit die stryd getree het, met hul vrou se ondersteuning.

En dan is daar ook die gevalle waar dit nooit weer finansieel baie goed gegaan het nie, maar waar dié swaarkry-tye die paartjie gelouter het om te begryp wat werklik belangrik is, hul liefde te hersien en 'n lewe van eenvoud (in geluk) te leef.

Moet jou nie blindstaar nie . . .

Natuurlik is daar ook 'n begrip soos 'blinde lojaliteit'. Dis goed om 'n lojale vrou vir jou man te wees, maar wanneer dit beteken dat jy ondinge oorsien en wanneer jy (of iemand anders) onder jou lojaliteit lei, moet jy jou 'lojaliteit' begin hersien.

Dis wanneer jy die Teasers-besigheidskaartjie in sy sak kry met 'n persoonlike danser se nommer en 'n lipstiffiesoen agterop en glo dat hy haar waarskynlik net met haar boeke help.

Of wanneer die 'ander vrou' jou bel en vertel van die stomende verhouding wat sy en jou man gehad het (met 'n beskrywing van die moesie op sy linkerbobeen om haar saak te versterk) en jy steeds glo dat sy sussie jul huwelik net probeer vernietig.

Wanneer jy glo dat sy traagheid om werk te soek en te behou (nou al vir tien jaar!) steeds net deur jou onderskraging en aanmoediging verander sal word.

En wanneer jy glo dat jy gevra het vir die blou merke op jou gesig en kneusplekke op die res van jou lyf, aangesien hy "eintlik 'n sagmoedige man" is . . .

Al Mohler, president van die Southern Baptist Theological Seminary, sê: "'n Nazi word nie as 'n morele persoon beskou omdat hy lojaal optree teenoor Nazisme nie."

Is lojaliteit 'n sleutel tot geluk?

Daar is egter 'n verband tussen bevredigende verhoudings, gelukkigheid en ware en gesonde lojaliteit, skryf die outeurs Timothy Keiningham en Lerzan Aksoy in hul boek Why Loyalty Matters.

"Die belangrikste faktor wat gelukkige mense van ongelukkige mense onderskei, is ons verhoudings met ander. Dis belangriker as geld en self belangriker as gesondheid." (Blog.beliefnet.com).

Michelle skryf ook dat ouer vriende en familie op die vraag ná hul jarelange huwelike, geantwoord het dat daar nie versteekte geheime is nie, maar dat die begrippe 'lojaliteit' en 'toewyding' herhaaldelik genoem is. Wanneer jy besluit dat die slegte tye nie die moeite werd is om deur te werk nie, kan jy dalk iets laat vaar wat potensieel baie betekenisvol is. Lojaliteit is nie iets wat op jou afgedwing kan word nie, maar kom vanuit 'n plek van liefde, toewyding en oorgawe aan die welstand van die ander persoon.

Dis nie noodwendig altyd maklik om lojaal te wees aan jou lewensmaat nie. Om die waarheid te sê: Dis deksels moeilik! Maar lojaliteit is 'n persoonlike keuse en dit dra by tot die intimiteit tussen twee mense.

"Een van die redes waarom mense trou in plaas daarvan om net te kuier of saam te bly, is omdat hulle begin glo dat hulle mekaar liefhet en omdat hulle glo dat hulle daardie spesifieke persoon gevind het wat altyd vir hulle daar sal wees, dit maak nie saak wát gebeur nie. En dat dié persoon, ongeag omstandighede, aan hulle lojaal sal bly," meen S.E. Jones in sy internetartikel Importance of Loyalty in Marriage (Helium.com).

Lojaliteit binne 'n huwelik is ongelooflik belangrik omdat dit 'n manier is waarop huweliksmaats aan mekaar wys hoe belangrik hulle vir mekaar is. Almal het nodig om te weet dat daar iemand is wat in hulle glo, hulle ondersteun en hulle prys wanneer hulle goed vaar. Ja, jy kan dit in ander verhoudings kry, maar jy wil dit graag by jou maat kry, want hy is veronderstel om die belangrikste persoon in jou lewe te wees en sy opinie behoort meer as enigiemand anders s'n te tel.

Jones sê: "As die persoon wie jy meer as enigiemand anders liefhet, eer en respekteer – dieselfde by jou kry – ervaar jy dit op 'n baie diepliggende vlak. Dis hoekom daar lojaliteit in die huwelik moet wees; dit vorm die basis waarop 'n huwelik rus."

Só betoon jy lojaliteit teenoor jou lewensmaat:

  1. Om lojaal te wees . . . beteken om Manlief se swakhede te herken en hom op 'n diskrete manier hiermee te help deur daarvoor te kompenseer. As hy byvoorbeeld aan erektiele disfunksie lei, beteken lojaliteit allermins om sy 'probleempie' agter sy rug met sy ma te bespreek. Dit verg van jou om hom te ondersteun en aan te moedig om 'n dokter te gaan sien, en saam met hom te gaan as hy dit so sou verkies.
  2. Om lojaal te wees . . . beteken om nooit iets in die openbaar of in privaatheid te sê wat jou maat verneder nie. Wanneer julle vriende oorgenooi het vir braaivleis en hy die vleis weereens 'n bietjie te gaar gemaak het, is dit dislojaal om te sê: "Vergewe maar vir Schalk, hy het agter in die ry gestaan toe braaitalent uitgedeel is!"
  3. Om lojaal te wees . . . beteken om jou maat se kant te kies, selfs al dink jy hy is gedeeltelik verkeerd (behalwe as dit ernstige kwessies soos kindermolestering aan betref!). Wanneer Manlief dus vir jou vertel hoe onredelik sy werkgewer die laaste tyd met hom is, erken sy frustrasies en moenie sê: "Hy wil net hê dat jy 'n bietjie meer moet insit" nie.
  4. Om lojaal te wees . . . beteken dat jy daar sal wees – emosioneel en fisiek. Wanneer hy dit ook al nodig het. Jou teenwoordigheid beteken dat hy op jou kan peiltrek en dat jy sekuriteit bied in die verhouding. Dit maak nie saak hóé moeilik dit vir jou is nie, sorg dat jy dáár is vir sy suster (wat in Londen gewoon het) se begrafnis.
  5. Om lojaal te wees . . . beteken om, wanneer ander negatiewe opmerkings oor jou man maak, jouself daarvan te weerhou om aan die gesprek deel te neem. Selfs al voel jy hulle het 'n punt beet, is dit nodig vir jou om hom te verdedig en hom in 'n gunstige lig te stel. As sy beste pel dus volgende keer goediglik spot dat Mike al wéér die muurbaltoernooi verloor het, moenie saamlag nie, maar sê eerder: "Ten minste weet ek van 'n hele paar dinge waarmee hy uitstekend vaar!" En glimlag alwetend.
  6. Om lojaal te wees . . . beteken om nooit neerhalend oor hom te praat nie. Natuurlik is dit vir Evas die moeilikste ding om te doen, veral as hy jou wéér alleen met die kinders los om te gaan jag. Jy kan maar jou eie frustrasies deel, sonder om hom die skuld te gee, deur te sê: "Ek raak só gefrustreerd wanneer hy in die bos gaan speel terwyl ek met die kinders sukkel." (Ja, dié een is 'n genadige uitsondering, né!)
  7. Om lojaal te wees . . . beteken om jou maat se behoeftes bo ander s'n te stel. Oorweeg ander versoeke oordeelkundig wanneer jou maat jou aandag nodig het. Wanneer hy siek by die huis lê en jy 'n girls night het, moet jy dus maar jou pasiënt pamperlang. Ten minste tot hy slaap!
  8. Om lojaal te wees . . . beteken om jou woord te hou en eerlik en betroubaar te wees. Jou man moet weet jy gaan jou belofte nakom. As jy gesê het julle kan maar die langnaweek by sy ouers gaan kuier, moenie Donderdagaand kop uittrek nie, maar hou by jou woord.
  9. Om lojaal te wees . . . beteken om vir Manlief te akkommodeer, selfs al is dit nie jou keuse nie. As jy 'n rustige aand by die huis beplan het en jou man se werkgewer het homself vir ete oorgenooi, sal jou lojaliteit jou lei om maar op jou tong te byt en die goeie gasvrou te speel. Met grasie.

As jy sukkel om dié nege lojaliteitsgebooie te gehoorsaam, onthou: It goes both ways! Sterkte.

Addisionele bronne: Crosswalk.com; Blog.beliefnet.com; Ezinearticles.com; Relationshipmatters.com; Helium.com

 

Comments 

 
0 #1 WILMA DU PLESSIS 2011-12-20 11:20
:lol: presies wat ek vandag nodig het.
Quote
 

Add comment


Security code
Refresh