facebooklogo  twittericon
Daar diep binne-in jou Adam...

article001

Kon jy maar raai wat binne-in daardie ruwe uiterlike aangaan? Maar nee, só gelukkig sal jy nie wees nie. Vra jy ’n man hoe hy voel, sal jy – indien báie gelukkig – ’n antwoord kry. ’n Eenwoord antwoord. So, hier is ’n paar dinge waaroor jy dalk nog altyd gewonder het.

’n Man is soos ’n toe boek. Dit is ou nuus! As jy enigiets wil weet, sal nie eers drie gladiators met ’n tang in die hand dit uit hom getrek kry nie. En gevoelens? Moet daardie woord nie voor hom nóém nie, want hy klap toe soos ’n mossel. Dit los ons Evas maklik met die idee dat daar niks binne-in daardie skulp is nie. Verkeerd! Hy het wel ’n “binneste”, glo dit of nie! En as jy weet hoe hy op sekere oomblikke in sy lewe voel, kan jy veel verder gaan in die proses om jou Adam te verstaan...


So, hoe voel ’n man regtig wanneer . . .


. . . hy weerloos is?
Jy het waarskynlik reeds jou eie definisie van weerloosheid. Soos wanneer jy ná donker in ’n gevaarlike gebied moet ry, wanneer jy pas jou ma aan die dood afgestaan het . . . mans is ook weerloos, maar dikwels op ’n ander manier as wat vroue dit verstaan. Wanneer ’n man weerloos is, kom hy na jou toe om te praat. Hy vra jou wat jy van ’n sekere situasie dink. Sodra hulle klaar gepraat het, is hulle gereed om jou raad te hoor en dít is die grootste teken van vertroue en liefde vanaf ’n man. Wanneer ’n man jou help met ’n spesifieke taak, is hy weerloos want hy wonder: “Het ek daarin geslaag om haar gelukkig te maak?” Hulle is nie altyd seker nie. Wanneer ’n man ’n fout maak of onbevoeg voel, is hy baie weerloos en dit kan veroorsaak dat hy vir jou kwaad word! Die bekende skrywer John Gray sê dat as ’n man skaam of jammer voel, hy meer liefde nodig het en daarom gee hy meer punte as jy reageer deur ondersteunend te wees. Hoe groter sy eie fout is, hoe meer punte gee hy jou vir jou liefde! En as hy nie liefde kry nie? Dan penaliseer hy jou volgens hoeveel hy jou liefde nodig gehad het en hierdie penaliseringspunte wys hy deur woede en onttrekking te openbaar

. . . . hy uitgevang word?

Die meeste mans het ’n stoute kant. Die graad van stoutigheid verskil net. Daar is natuurlik ’n reuse verskil tussen om ’n paar biere saam met die manne te gaan drink (terwyl jy veronderstel is om ’n paar items by die supermark te gaan aanskaf) en om ’n prostituut in ’n hotelkamer te gaan ontmoet . . . so, hoe voel ’n man wanneer hy betrap word? Is daar spyt of skuldgevoelens? Soms voel vroue dat ’n man net toneelspeel om vergifnis te ontlok of die reaksie wat hy graag van sy vrou wil hê te kry. Sommige mans probeer hul dade regverdig!

Wanneer ’n man uitgevang word met iets relatief onskuldig, is die gevoelens gemeng. “Tensy dit ’n verrassing was, voel ek gewoonlik skaam dat ek nie met my vrou oop kaarte gespeel het nie. My rede vir my skelm optrede voel dan altyd simpel en ek besef net weer hoe belangrik eerlikheid in ’n huwelik is,” sê Henry. Gert sê: “Skuldig en klaar. Jy voel simpel omdat jy dit nie met haar gedeel het nie. Is dit nodig om die oortreding te verduidelik? Gewoonlik is jy reeds veroordeel en help dit nie juis dat jy verduidelik nie!” ’n Man se gevoelens ná hy uitgevang is omdat hy sy vrou verkul het, verskil van man tot man.

Hoewel ’n man dit nie wys wanneer hy uitgevang word nie, is sy eerste reaksie gewoonlik skok en paniek. “So ongelooflik of simpel soos wat dit mag klink, dink baie mans regtig nooit dat hulle uitgevang sal word nie,” skryf Katie Lersch (ezinearticles.com). Aanvanklik is skadebeheer hul eerste gedagte. Hulle dink nie helder nie en sal rondskarrel om te bepaal hoe om hierdie dilemma te hanteer. “Anders as vroue wat sal probeer om hul gevoelens uit te sorteer en om inventaris te neem van wat hul ‘gut’ en integriteit hulle vertel om te doen, is mans reaktief, bedoelende dat hulle reageer op wat ook al op daardie gegewe tydstip gebeur, eerder as om hulle te bekommer oor dié dade wat hul toekoms positief sal beïnvloed,” sê Katie. Daar kom ’n punt wanneer jy verskonings en pleidooie kry. Dit neem egter vir sommige mans langer as vir ander.

. . . . jy voor hom huil?
Miskien is jy een van daardie vroue wat die kraantjies maklik oopdraai, dalk stroom jou trane onwillekeurig of miskien is diegene wat jou al ’n traan sien stort het slegs ’n handjievol. Hoe dit ook al sy, die kans is goed dat jou man jou al sien huil het. Hoe voel ’n man wanneer sy vrou voor hom huil? “As jy jou argument wen deur in te gee en te huil, neem ’n man dadelik aan dit is omdat jou gevoelens seergemaak is en hy te hard op jou was,” verduidelik  die webtuiste Busterb.mgtow.net. Die enigste ding wat ’n man méér moet vrees as ’n vrou in trane, is die woede van dieselfde vrou as hy die trane afmaak as hormonaal, meen die webtuiste askmen.co.za. Philip sê op INTIEM se Facebook-blad: “Ek voel so magteloos dat ek gefrustreerd en dan depressief raak. Dit is nou wanneer sy huil oor ernstige dinge. As sy huil oor ’n mooi fliek, vermurwe ek skoon! Soms kry ek dan ook ’n traan in die oog – maar moet tog nie dat sy daarvan uitvind nie.”

. . . hy verneder word?
Jy dink dalk dat hy daardie skerp opmerking oor sy boep afgelag en vergeet het, maar dit is in enige mens se natuur om nie verneder te wil word nie. Wanneer jou man beledig word, is sy ego gekrenk, sy trots is seergemaak en hy is magteloos uitgebeeld. Dit maak enige man kwaad en seergemaak. Wanneer ’n man verneder word, ervaar hy gevoelens van disrespek, ’n verlies aan selfbeeld, skaamte en magteloosheid. Het jy geweet dat waardering die teenoorgestelde van vernedering is? As jy jou man dus verneder, voel hy dat jy hom nie waardeer nie. Omdat vernedering so nou gekoppel word aan magteloosheid, lei dit ook dikwels tot angstigheid. (emotionalcompetency.com)

Watter direkte uitwerking het dit op ’n man se gevoelens? Die manne het op Facebook geantwoord: “Ek glo dat wanneer iemand jou verneder, so ’n persoon geen respek vir jou of homself het nie,” sê Barend. Riaan sê: “Dit is erg vir ons ego’s, ons manlikheid, ons selfvertroue.” Die mans het verskeie antwoorde gehad. In die woorde van Robbie: “Geen man wil hoor hy is nutteloos, kan nie vir homself dink nie of kan niks doen nie. As ek dit hoor, raak ek soos ’n steeks donkie. Komplimenteer ’n man en sien watter wondere jy met hom uitgerig kan kry.” ’n Ander deelnemer het gesê dat ’n man se eerste gevoel dié van vurigheid en warmte is, dat  hy sy manlikheid wil inspan om sy vernedering weg te neem

. . . . hy vir die eerste keer sy baba vashou?
Vir jou is dit ’n ongelooflike gevoel. Jy weet hoe dit voel wanneer jy vir die eerste keer kennis maak met ’n kindjie wat jy vir nege maande lank in jou rondgedra het. Maar hoe voel dit vir ’n man? ’n Man wat die een dag nog net dít was – ’n man – en nou skielik ’n pa geword het? “Ek kan heeldag hier sit en verduidelik en dit sal nie reg laat geskied aan die oomblik nie,” verduidelik Pierre, ’n INTIEM-leser. “Dit is ongelooflik en seker die duidelikste bewys van hoe groot en almagtig die Here is. Die wonderwerk, die trots, die liefde, die genot en die oomblik self is amper te groot vir ’n enkele mens om op een oomblik te beleef.” Rudi, nog ’n leser, skryf op Facebook: “Jy voel soos Superman! Dit is baie emosioneel. Sodra jy self ’n ouer is, kan jy eers verstaan watter liefde jou eie ouers vir jou het. Dit is onbeskryflik!” ’n Deelnemer op uk.answers.yahoo.com skryf: “Dit was vreemd. Ek het dit nie verwag nie. Ek het gedink die vuurwerke sal afgaan en dit het nie. Om eerlik te wees, ek was te veel van ’n senuweewrak na ek my vrou so pas twaalf ure se pyn sien verduur het en ek was emosioneel uitgeput. Dit het my ’n paar dae geneem om regtig die ouerskapgevoelens te kry wat ek verwag het. My dogter het haar eerste paar dae in die hospitaal deurgebring en dit was eers toe ons by die huis gekom het wat die bonding regtig vir my begin het. Toe dit egter gebeur het, het dit net gegroei en gegroei. Om ’n pa te wees, is die beste ding in die wêreld.” 

. . . hy geliefd is?
Al lyk hy so ongeërg oor die liefde en al voel jy soms net soos ’n tea lady/seksmaat/kok/persoonlike assistent vir jou man, wil hy diep binne-in weet dat jy vir hom lief is en dat hy steeds ná al die jare “die een” vir jou is. Hy wil voel asof hy jou inspireer en dat jy hom aanvaar, vertrou, waardeer en respekteer. ’n Man se grootste vrees is dat hy nie goed genoeg is nie. En wanneer hy geliefd voel? Wel, dan voel hy soos Tarzan. Of in een manlike INTIEM-leser se woorde: “Volmaak, asof die rib nooit weg was nie. Terselfdertyd in die wolke en met sy voete vas op die aarde. Tevrede, asof hy uitgevind het waarvoor hy op hierdie aarde geplaas is. Gelukkiger as Lucky Dube wanneer hy twak in sy sak het!”
Yogi Bhajan het gesê dat wanneer ’n vrou haarself met ’n vergewensgesinde, liefdevolle bewustheid vul, sal alles op aarde na haar aangetrek word omdat haar grasie as vrou so stralend is. Wanneer manlief dus in sy grot kruip, laat hom dit toe. Dikwels sukkel ons om hom te laat los en dit dan is wanneer die bakleiery voortduur. “Waar ’n vrou liefdevol voel teenoor diegene wat haar emosioneel en fisiek ondersteun, voel ’n man liefdevol in reaksie op ’n vrou se grasieuse en liefdevolle reaksie op hom.

John Gray (outeur van die boek Men are from Mars, Women are from Venus) verwoord ’n man se behoeftes só: “Elke keer wat ’n vrou dít wat haar man vir haar gedoen het waardeer, voel hy geliefd en gee hy haar ’n punt daarvoor.” Hy sê ook dat vroue dikwels die mag van hul liefde onderskat en hulle wil hul mans se liefde verdien deur méér te doen as wat hulle mans bereid is om te doen. Maar as sy hom nie waardeer nie, is háár dade in en om die huis vir hom heeltemal betekenisloos. En natuurlik is seks, soos jy weet, een van die grootse “belonings” in ’n man se oë – ’n bewys dat jy vir hom lief is. 

Addisionele bron: doctorkhalsa.com.

 

Add comment


Security code
Refresh