facebooklogo  twittericon
As skoonlief in ’n ondier verander

article004

Liefdevolle wraak . . . Vroue is nou maar eenmaal ’n emosionele spesie. Ons harte praat soms heelwat harder as ons verstand, en as ons eers ontsteld is . . . wee die arme skepsel wat in ons pad staan.

So elke nou en dan krap manlief jou weer om (die arme manne is ook alewig in die moeilikheid en kan dit  skaars waag om diep asem te haal), en vroulief se humeur skiet die hoogte in. Of dit nou heel naweek op die gholfbaan is, ’n vergete huweliksherdenking, ’n ware antwoord op “Laat hierdie rok my vet lyk?” of enige van daardie versteekte landmyne. Dis dan wanneer vroulief begin kook . . . en dink aan hoe om die speelvlak weer gelyk te maak. Soms vergeet ons die sêding  “revenge is a dish best eaten cold” en spring vuur en vlam weg . . . vra maar vir die beeldskone Elin Nordegren hoe ’n nommer 3-yster deur gholfspeler Tiger Woods se agterste motorvenster getrek het! Ons vra eerder nie oor die blou oog nie. En dit so kort op die hakke van onthullings oor sy jarelange affairs.

Ons hoop dat INTIEM-lesers nooit rede sal hê om só te reageer nie!

Maar as jy daardie humeur  voel borrel, haal diep asem . . . en onthou sy goeie eienskappe!

Hier is ’n paar humoristiese staaltjies en planne wat (gelukkig getroude) vriendinne gedeel het. Ons vra net groot asseblief: “do not try this at home!

’n  Vriendin vertel dat gholf ’n vloekwoord in hul huis is. Haar man sou die Saterdagoggend ’n vriend gaan help trek  en sy het besluit om haar hoogswanger lyf te laat rus tot hy terugkom, waarna hulle babagoed sou gaan koop. Met die groetslag sien sy die gholfstokke agter op sy bakkie lê, maar sê niks. (Julle weet hoe ’n emosionele tydbom ’n swanger vrou is!) Ná so twee ure verloor sy haar humeur oor sy leuens en bel woedend die vriend waarby hy kamstig is. Die vriend weet van niks en sê hy het ook nie onlangs met haar man gepraat nie. Stomend van woede loop sy deur die huis en haar oog vang die twaalf bottels duur whisky wat hy by die werk gekry het . . . Sy was besig om die sesde bottel om te keer in die wasbak toe sy bakkie buite stilhou en hy begin om daardie antieke, duur bababed wat sy begeer het af te laai! Die gholfstokke? Ingeruil sodat hy die bed kon bekostig!

Ané en Diederick het ’n naweek saam beplan: fliek, tuinmaak en ’n braai saam met ’n ou skoolvriendin van Ané. ’n Kans om tyd saam te spandeer in hul besige week. Saterdagoggend vroeg bel een van Diederick se vriende: hulle het ’n ekstra rugbykaartjie vir ’n groot wedstryd in Bloemfontein. Die manne ry oor ’n uur en slaap oor, hy is welkom om saam te kom. Dit was nie ’n moeilike besluit nie. Ané was vies, maar wat kon sy aan die saak doen? Dis eers toe sy weer verby daardie winkel met die paar duur skoene loop wat sy so begeer dat die duiwel op haar skouer die oorhand kry. Sy koop die skoene en, sommer net daar in die winkel, neem sy ’n foto van die skoene, met die prys duidelik sigbaar, met haar selfoon. Sy stuur dit aan met die boodskap: “Dankie liefie!” Geen reaksie. By die volgende winkel sien sy ’n paar stukkies onderklere . . . en só hou dit aan. En manlief kyk rugby. Met haar kattebak vol aankope, ry sy terug huis toe. Haar oog vang die BMW-handelaar en sy trek af. Sy vra of sy na een van daardie mooi convertible nommertjies kan kyk. Nadat sy ge-oe en ge-aa het, vra sy die verkoopsman om gou ’n foto van haar in die kar te neem. Sy hou die sleutel omhoog en gee haar mooiste glimlag. Nie eers ’n minuut later nie begin haar selfoon lui – ’n benoude Diederick is op pad terug huis toe!

Dan is daar ook die kampvuurstorie wat die rondte doen van die vrou wat moedeloos was met haar man wat vroegoggend selfvoldaan in die bed lê en winde los en hom nie steur aan haar klagtes nie. Sy is naderhand te bang om die laken op te tel! Eendag besluit sy sy het genoeg gehad en ontdooi die vorige aand ’n pakkie bloederige hoender-binnegoed. Vroegoggend maak sy dit so liggaamstemperatuur warm en glip dit teen manlief se broekspyp op waar sy dit los. Hy word met ’n  gerek en sy gewone geknor van onder die lakens wakker. Hy staan op om ’n  draai te loop en bang dat sy gaan uitbars van die lag, glip sy vrou by die kamer uit. Sy gaan maak koffie en toe sy terugkom, sit hy baie bleek op die bed. “Wat’s fout?” vra sy ewe onskuldig. “My derms kom uit!” laat hy ontsteld hoor. Gemaak bekommerd vra sy uit en vra wat het hy toe gedoen. “Ek het so geskrik, ek het dit teruggedruk!”

Ons Facebook-vriende het ook ’n paar wenke uitgeruil:

•    Skrop die toilet met sy tandeborsel!
•    Hy kry net toebroodjies vir aandete vir ’n week lank!
•    My man het uitgepass voor die TV. Ek het hom poedelnakend uitgetrek en die waaier aangesit. Twee weke later het mens vergeet van kwaad wees en lag mens lekker saam!
•    ’n Ladies night wat net so lank aanhou, en hom net soveel laat bekommer, laat my man twee keer dink voor hy eers na middernag by die huis insluip!
•    Teken vir hom ’n snaakse gesig met ’n permanente pen as hy slaap of verf sy toonnaels.Hier is van die giftige voorstelle te vinde in die kuberruim:
•    Laat ’n vriendin hom bel en ’n boodskap op sy telefoon los: Mevrou so-en-so, dis dr Botha se spreekkamer. Ek bel net om te bevestig dat die bloedtoetse bevestig het dat u swanger is . . . en as ’n mens so na die hoë telling kyk, is daar ’n moontlikheid dat dit ’n tweeling kan wees. (Dit sal ’n wenner wees as julle reeds besluit het julle huis is vol!)
•    Dit wil lyk asof gholfspeel wêreldwyd konflik veroorsaak! Adverteer sy geliefde gholfstokke teen ’n winskoop in ’n koerant en laat hulle sy selfoon warm bel. Die vroue sê dit werk ook vir Playstations! Die boodskap kom duidelik deur.
•    Skud sy bier voor jy dit vir hom aangee.
•    Die vroue wat moet kompeteer met werk na-ure en hul mans se skootrekenaars, het ook kreatief geraak: Neem ’n screenshot van sy rekenaar en sit dit op as sy agtergrond. Alles lyk of dit moet werk, maar reageer nie daarop as jy kliek nie. As hy ’n optiese muis het, sit ’n stukkie kleefband onderaan – jy skuif en skuif, maar niks gebeur nie! Met ’n gewone muis, trek die kabel net-net ver genoeg uit sodat dit nie meer werk nie. Dan is daar derduisende e-pos nuusbriewe waarop hulle hul mans inskryf, sodat hul e-pos adresse so te sê onbruikbaar is. (Ag nee sies.)
•    Laat sy skeermes wegraak, sodat hy dit eers besef as hy alreeds laat is vir werk.
•    Hou op wasgoed was . . . sodat hy een oggend verslae voor sy klerekas besef daar is nie ’n enkele skoon werkshemp nie.
•    Wag tot hy slaap en stel sy wekker . . . vir HEELWAT later!
•    Sny die onderkant van sy broeksakke oop.
•    Laat jou ma kom kuier . . . vir ’n week.
•    Koop ’n blikkie motorolie. Mors elke oggend so ’n bietjie onder sy nuwe kar. Hy sal verstom soggens na die lekplek te soek.
•    As sy motor buite staan, gooi ’n pakkie voëltjiesaad daaroor uit. Die voëltjies sal hom bedank vir die maal met ’n baie vuil kar.

Ons lag lekker vir die stories, maar beveel nie aan dat jy bogenoemde probeer nie. JY kan dalk net die een wees wat vanaand op die bank slaap!

 

Add comment


Security code
Refresh