facebooklogo  twittericon
In Lulu se Woorde

Threesome se Moses

Van studentedae af al is ek bang om óf op die voorblad óf op die agterblad van 'n tydskrif of dagblad te beland ('n fobie wat ek in die 80's in Margate ontwikkel het).

Op aandrang van my goeie (en manipulerende) vriendin (die brein en passie agter INTIEM), is ek vandag vir die heel eerste keer aan die woord – prykend in 'n 'hyg'tydskrif. (Só verwys ons vriendekring na INTIEM – net om ons vriendin se bloeddruk op te stoot.)

 

Pappa lag nie terwyl sy vroutjie instem om 'n artikel te (probeer) skryf nie. Hy het sy die-Bulle-het-met-een-punt-verloor-gesig op.

"Het jy sooibrand?"vra ek moedswillig.

"Nee!"

Hy dink dis onnodig om staaltjies uit die 'boudoir' met die ganse mensdom te deel.

"Dis nie die gánse mensdom nie! Dis net vir INTIEM-lesers!" probeer ek troos.

Pappa lag niks, hy draai net om en loop. Ek en Vriendin giggel saggies.

Nouja, hier is vir julle 'n 'boudoir'-staaltjie, die eerste vir 2011. Laat ons tog net die nuwejaar op 'n hoë noot begin!

Die drie spruite in ons huis wissel van vyf tot 14 jaar. ("Sies tog!" dink julle almal, ek weet.) Die vyfjarige slaap saans soet in sy kamer, in sy Ben-10-bedjie totdat hy "ouderdomsbeperktedrome" kry. (Ja, dis die soort woorde wat hy leer met 'n tienerboetie en -sussie in een huis.)

Uit moedeloosheid gooi ek nou 'n matrassie in ons kamer met 'n kussing en kombers sodat hy stil-stil kan kom lêplek soek. (Ja. ek is daarvan bewus dat dit opvoedkundig baie verkeerd is, maar dis my derde bloedjie, ek is middeljarig en moeg en wil snags graag ononderbroke slááp!)

Só gebeur dit toe een volmaan-nag toe Pappa vir Mamma 'n bietjie aandag wil gee dat Boeta sommer vroeg-aand wegloop en hom kom tuismaak op sy matrassie. Ek bring die kleuter op die matras onder Pappa se aandag, maar hy stel my gerus dat ons saggies sal wees. Ek geniet al die aandag totdat 'n geritsel of iets dergeliks aan die voet van die bed my aandag trek.

"Wat was dit?" vra ek benoud.

"Is daar iemand op die bed?"

Bid jou aan! Ek sterf tien dode as die kind op die bed sit en vir ons kyk! Pappa draai rustig om en loer oor sy skouer.

"Nee, daar is nie, maar kan ek iets vir jou reël . . .?"

Baie gedagtes maal gelyk deur my kop. Oomblikke later trek Pappa deur die lug. Dit lyk kompleet soos 'n cowboy wat deur 'n meganiese bul op 100%-spoed geslinger word. Hy lê langs die bed, wind uit.

"Wat nou?! Hoekom skop jy my af?"

Ek sit my verontwaardige gesig op.

"Iets reël?! Iets reël? Het jy iets se nommer op speed dial? Vat 'n kussing, sê groete vir die rusbank."

"Dit was net 'n grap, Pop," probeer die cowboy sy plan hervat . . .

"Gmpf . . . my kop is seer," jok ek. Hy weet ek jok, maar gee die stryd gewonne.

"Jy't nie 'n sin vir humor nie," mompel hy al met die trap af.

Ek lê alleen in die 'boudoir'– byna histeries van die lag en my laaste gedagte voor ek aan die slaap raak, is: "Dié storie gaan darem maar lekker oorvertel."

Sies tog, arme Pappa! Ek het hom intussen vergewe omdat hy my só ontstel het op die presiese oomblik wat 'n mens nou wel nié ontsteld wil wees nie, en hy het belowe om sy tyd vir grappies beter te kies.

Ek onder neem om in 2011 die humor in alles te sien en waardeer. Ek gaan vir my tieners se nuwe sarkasme-talente lag, vir my kleuter se sê-goed en slim planne, vir Pappa se droë aanmerkings en vir myself!

Onderneem saam met my, tóé!

Glimlag, lag, grinnik, giggel, skater of skree histeries van die lag – totdat jy verstik! (Dan het almal om jou ook sommer goeie rede om te lag!)

 

Add comment


Security code
Refresh