Ek en my man, Philip Moolman, brand dikwels die kers aan albei kante met 'n té besige werkskedule. Ons bestuur ons Blou Hond Teater Restaurant in Linden, Johannesburg, en doen ook weekliks buite-optredes op die platteland as onderskeidelik sanger en motiveringspreker. Hierdie gejaagde leefstyl, moet ek in alle eerlikheid erken, is nie altyd vir ons 'n aanhitsmiddel in die slaapkamer nie. Die geluide uit ons dubbelbed in menige gastehuis is dikwels geluide van pyn eerder as van plesier . . .
Pyn in die vorm van padvermoeienis. Pyn in die vorm van streshoofpyne. Pyn in die vorm van hardlywigheid van die lááááng sit op die lááááng paaie met 'n hamburger en chips in plaas van 'n slaai en groen tee. En die pits – pyn in die vorm van aambeie wanneer jy eindelik die romantiese eindbestemming bereik. "Seks is die barometer van 'n huwelik," sê ek gefrustreerd deur die toiletdeur. "En ons temperatuur is deesdae ver onder normaal met al die ryery. Kan jy die Preparation H vir my soek, asseblief?" "Enige voorstelle hoe om ons koors weer op te kry?" vra my man en skuif die buisie salf deur 'n skrefie. "Ons moet net eenvoudig braaf wees," sê ek vol bravade. "Hierdie gastehuis is té romanties om net so ongedaan agter te laat. 'n Goeie sekslewe op die pad vra commitment. Ook as 'n mens moeg of in pyn is." "Nou ja, kom verras my met 'n koorsige aanslag," sê Philip sonder veel hoop in sy stem. Ek gooi 'n suggestiewe flentertjie klere oor my lyf en stap met my buisie KY-smeerjellie die kersbeligde slaapkamer binne. "Mmmmm," kreun my man soos 'n leeu wat nog baie brul in hom oorhet. "En nou gaan ek ons net bietjie verder opwarm met die smeerjellie," kreun ek terug. Ek draai die proppie in die kerslig af en smeer op al ons nodige plekkies. Sy brul raak skielik minder. En toe tjoepstil. "Is jy seker dis smeerjellie?" vra hy versigtig. "Wel, ek dink so . . ." sê ek – skielik onseker. "Voel beslis anders as laas," sê hy en vryf oor sy lyf. "Mmmm, vir my ook," sê ek. Philip sit die bedlampie aan. Ek trek my asem verskrik in. In die helder neonlig sien ek die woorde duidelik: "Preparation H – vir die verligting van pyn, asook die krimping van geswolle aambeie." "Die krimpgedeelte het beslis gewerk," sê Philip droog. "Wel, dan vat ons maar 'n koue stort saam," sê ek. "Seks is nie vir sissies nie." |
Wen 'n iPad!
Koop die Apr/Mei INTIEM met Anel en James Alexander op die voorblad en soek die 2 appels wat ons in die uitgawe weggesteek het! Om in aanmerking te kom vir die wonderlike prys, laat weet ons op watter bladsy die appels wegkruip! (Jy hoef slegs 1 te vind om in aanmerking te kom vir die prys). Stuur dan die bladsy nommer en jou kontakbesonderhede na elanie@intiem.co.za en maak jou epos onderwerp "iPad Kompetisie". Indien jy nog nie jou nuwe INTIEM gekoop het nie moet jy opskud, die boekies vlieg van die rakke af! Jy kan INTIEM ook aanlyn kan lees by www.mysubs.co.za/Intiem. Inskrywings sluit 21/05 om 12:00. (Indien jy aangewys word as die wenner, moet jy kan bewys dat jy wel die boekie gekoop het).
laai gratis af
KLIEK HIER om die Bytjies, Blommetjies en My Kind gratis af te laai.
KLIEK HIER om "Oor Seks & Stuff" gratis af te laai.
KLIEK HIER vir 'n volledige lys van gratis dokumente.


















