facebooklogo  twittericon
Indruk : Elma Postma
elma

Sy is 'n aktrise en Suid-Afrika se eie "matchmaker" as aanbieder van die gewilde Kyknet-program Boer Soek 'n Vrou. Elma Postma se kop is reg aangeskroef. Sy word geïnspireer deur die liefde en skroom nie vir nuwe uitdagings nie. Hier is háár indrukke van die lewe.

 

Vir my beteken naasteliefde . . . om in elke mens wat my pad kruis iets goed raak te sien en daardie goeie oor te dra aan die volgende mens wat my pad kruis, en sodoende 'n "domino-effek" op die samelewing te hê.

Ek is nie bang om . . . nuwe dinge te probeer nie. Ek het al geskubaduik, ek klim maklik alleen op 'n vliegtuig en gaan verken 'n vreemde land, en ek het al selfs my hand in 'n leeu se bek gedruk. Ha!

Wanneer ek vrye tyd het . . . hou ek daarvan om te gaan fliek, selfs tot drie flieks in 'n ry. En die popcorn . . . hmm.

Die wêreld daar buite is . . . paaie wat verken moet word. So, staan op uit jou gemakstoel en pak die reis aan!

Een ding waarsonder jy my nooit sal aantref nie . . . is my sin vir humor.

'n Man is vir my sexy . . . wanneer hy by my in die kombuis staan terwyl ek kosmaak en vir my nuwe woorde uit die HAT leer.

As ek die Lotto wen . . . sal ek sorg dat ek nooit weer hóéf te werk nie, en met 'n leë tas op 'n vliegtuig klim.

Ek dink daar is soveel egskeidings want . . . te veel mense lewe in hulle eie selfsugtige wêreldjies en kommunikeer nie met mekaar nie.

Een van daardie dinge wat ek maar net nie kan kleinkry nie . . . is dat ek altyd lus is vir sjokolade as ek klaar geeët het!

My grootste bron van inspirasie is . . . die liefde in al sy vorms.

Wanneer 'n mens seerkry, moet jy . . . in plaas van om te gaan lê, krag put uit die ervaring en probeer om nie weer dieselfde foute te maak nie.

Die mees fantastiese plek op aarde is . . . waar jou hart is.

Vergifnis is so moeilik omdat . . . ons almal so egosentries en hardegat is.

Die moeilikste les wat ek nog ooit geleer het . . . is om mense te vinnig te vertrou – en tog is dit inherent deel van my om dit weer en weer te doen.

Jy maak 'n fout as jy dink ek . . . is 'n blonde poppie wat jy sonder handskoene kan aanpak.

Oor twintig jaar wil ek . . . nog steeds hê die lewe moet vol verrassings en opwinding wees.

 

Add comment


Security code
Refresh